All Blacks klop Willowmore

Lucian Afrika, senter van All Blacks, op pad doellyn toe vir een van sy twee drieë.   Foto: Ebenezer Titus

Lucian Afrika, senter van All Blacks, op pad doellyn toe vir een van sy twee drieë. Foto: Ebenezer Titus

Deur Wyndham Ewerts
DIE begeesterde A-span van All Blacks het Saterdag in ’n opwindende wedstryd in die SWD Presidents-liga (Karoo) vir Willowmore United op die Bridgton Sportgronde met 29-23 geklop.

Vir die swart truie is dié oorwinning baie bevredigend omdat Willowmore die voorloper onder die Karoospanne op die SWD Presi-dentsliga is.
Met dié sege skuif All Blacks nou op na die derde plek op die Karoo-punteleer. Hulle lê nou in die negende plek op die algehele punteleer van die SWD Presidentsliga wat die Kus-spanne en die Langebergspanne insluit.

All Blacks het die wedstryd met ’n bonuspunt gewen ondanks die feit dat hy rustyd met 10-23 agter was.

In die tweede helfte het All Blacks egter beter saamgespeel en Willowmore verhinder om nog punte in die wedstryd aan te teken.

Veral die jong flank Justin Bruintjies het ’n puik wedstryd vir sy span gespeel en is beslis ’n speler om in die toekoms dop te hou.

Vir All Blacks het Lucian Afrika, senter, twee drieë gedruk en Jefnie Kiewiets, heelagter, en Ronaldo Jan-sen, senter, een drie elk. Larry Paulse het met een doelskop geslaag en ook ’n strafdoel behaal.

All Blacks se B-span het hul ewe-knieë met 8-3 geklop.

All Blacks speel Saterdag op die Plate teen Collegians.