All Blacks bly op wenpad

All Blacks se buitesenter, Ronaldo Jansen, wat ’n puik wedstryd vir sy span gespeel het. Hy het twee pragdrieë gedruk.  Foto: Wyndham Ewerts

All Blacks se buitesenter, Ronaldo Jansen, wat ’n puik wedstryd vir sy span gespeel het. Hy het twee pragdrieë gedruk. Foto: Wyndham Ewerts

Deur Wyndham Ewerts
ALL BLACKS se A-span het Saterdag op die Bridgton Sportgronde vir Collegians met 41-22 geklop.

Collegians het goed begin met sy  haastige vleuel, Marshall Fortuin, wat die verdediging van die swart truie met ’n pypkan oorhoops gehad het om te gaan druk. Roberto Botha, heelagter, se doelskop was mis.

All Blacks se voorspelers het egter daarna die toon begin aangee en met vinnige besit ruimte geskep vir hul  losskakel, Damian Januarie, om te gaan druk. Larry Paulse, skrumskakel, het verdoel. Nie lank daarna nie het die All Black-stut Hermanus Samson ’n onverdoelde drie gedruk.

Paulse het drie strafdoele in die eerste helfte behaal om All Blacks rustyd met 21-8 te laat voorloop.

In die tweede helfde het All Blacks se buitesenter Ronaldo Jansen eerste gaan druk ná ’n puik deurskoppie   wat hy self opgevolg het.

Paulse het verdoel om sy span se voorsprong te rek na 31-8 wat hy kort daarna met ’n strafdoel opgevolg het.

Daarna het Collegians egter terug-geveg met goeie spel deur die span se voorspelers wat gelei het tot ’n drie deur Melvin van Staden, stut. Botha het verdoel.

’n Skitterende drie deur Jansen so-wat tien minute voor die einde wat deur Paulse verdoel is, het die telling op 41-15 te staan gebring.

Collegians se vleuel Prinstone Ca-rolus het met die laaste beweging van die wedstryd ’n troosdrie gedruk wat deur Jason

Plaatjies, losskakel, verdoel is vir ’n eindtelling van 41-22.

• All Blacks speel Saterdag in ’n wegwedstryd teen Beaufort-Wes.