DIE A-span van Dysselsdorp Ran-gers het Saterdag vir Glen Roses van Avontuur met 96-12 vermorsel in ’n SWD Karoostreekligawedstryd op Dysselsdorp.
Die rustydtelling was 49 – 0.
Rangers het in die proses 14 drieë gedruk om die span se getal drieë vir die seisoen tot 61 drieë op te stoot.
Twee spelers van Rangers, Deidric Booysen, kaptein en senter, en Beandré Botha, vleuel, het Saterdag elk vier drieë gedruk.
Die res van Rangers se drieë is gedruk deur Donnie Makonie, senter, wat twee keer agter die doellyn gaan kuier het, en Davestine Esau, heel-agter, Ben Gertse, vleuel, Eric Campher, agtsteman, en Jason Jantjies, losskakel, wat elk ’n drie gedruk het.
Esau het twaalf van die drieë verdoel vir ’n persoonlike bydrae van 29 punte in die wedstryd. Gertse het ook ’n drie verdoel.
Dit was Dysselsdorp se grootste oorwinning van die huidige seisoen.
Hulle het vroeër die seisoen vir Kango United met 66-5 verslaan.
Kango United het hom egter intussen aan die liga onttrek.
Dysselsdorp se keurders het ’n hele paar jong spelers kans gegee om hul staal op die groot verhoog te toon.
Die jong voorry, Chris Prins, haker, en die stutte, Adrian Piedt en Chris Jaftha, het hul plek behoorlik volgestaan.
Ander uitblinkers voorlangs was die slotpaar André Fredericks en Peet Samson, die flank Cheslin Saptou en die agtsteman Eric Campher. Agterlangs het Botha, Jantjies, Esau en Booysen puik spel gelewer.
Dysselsdorp speel Saterdag op sy tuisveld teen Korrektiewe Dienste.