
‘n Dokter van die Paarl wat in 2016 vir sy gemeenskapsjaar by die Infanterieskool op Oudtshoorn was, is in die Oudtshoorn Streekhof 14 jaar gevangenisstraf opgelê. Hy is skuldig bevind aan verkragting deur sy vingers te gebruik en twee klagtes van seksuele aanranding.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging van die 37-jarige Danzil King gesê dat hy sy vertrouensposisie as mediese dokter misbruik, en hom aan ernstige misdrywe skuldig gemaak het.
Sy aansoek om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer is van die hand gewys.
King se getuienis is deur Boks as vals en leuenagtig verwerp. Boks het bevind die klaers in die saak, twee 21-jarige vroulike rekrute, het nie enige motiewe gehad het om hom vals te beskuldig nie. Hulle het mekaar ook nie geken nie.
Die voorvalle het in April 2016 in die siekeboeg van die Infanterieskool plaasgevind toe die twee vroue die beskuldigde vir onderskeidelik ‘n liesbesering en oorinfeksie besoek het. Hy het hulle in albei gevalle gevra om te ontklee om sy ondersoeke te doen.
“Hierdie is nie die gewone geval van verkragting wat daagliks in hierdie hof aangehoor word nie, maar een van ‘n mediese dokter en voorvalle wat in sy spreekkamer plaasgevind het,” het die landdros gesê.
King se regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, het ter versagting van vonnis aan die hof voorgehou dat dit tans nie goed gaan met King se huwelik nie en ‘n egskeiding hom in die gesig staar. Hy en sy vrou is reeds van bed en tafel geskei.
Sy kontrak by die Infanterieskool, waar hy R57 000 per maand verdien het, is beëindig en hy is tans afhanklik van sy ouers se pensioene.
Metembo het die hof gevra om ‘n opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig te oorweeg. Volgens hom is rehabilitasie binne die gevangenis ‘n mite as daar gekyk word na herhaalde hofverskynings van gevonnisdes.
“Die beskuldigde het reeds alles verloor en swaar gestraf. Die unieke feite voor die hof verdien ‘n unieke vonnis,” het Metembo gesê.(Berig: Garnett Wicomb)