Ysige koue is hier!

Die Swartberge vanaf Oudtshoorn op 2 Julie 2018. Foto: Schalk le Roux

Die Swartberge vanaf Oudtshoorn op 2 Julie 2018. Foto: Schalk le Roux


Inwoners van die Klein Karoo kan hulle gereed maak vir ‘n koue paar dae met temperature wat volgens verskeie weerdienste oor die volgende dae tot vriespunt en selfs laer sal daal.

Inwoners van dié gebied is Maandagoggend begroet met sneeu wat spierwit op die Swartberge en die Klein Swartberge gelê het.

Die Swartbergpas is Maandag ook gesluit vir verkeer.

Ten minste een voertuig het die oggend in die ys op die bergpas vasgeval en moes deur ‘n 4X4-voertuig uitgetrek word.

Volgens weerdienste sal tenmperature teen Dinsdagoggend 08:00 op hul laagste wees met AccuWeather wat dan temperature van -1 grade C vir Oudtshoorn en -3 grade C vir Ladismith voorspel. WeatherSA voorspel 1 grade C vir Oudtshoorn en vir Ladismith, terwyl die weerdiens Yr voorspel dat die temperatuur op Oudtshoorn teen 08:00 sal daal tot 3 grade C en op Ladismith tot 2 grade C.