Deur Liesel le Roux
DIE eindstryd van 2018 se nasionale SuperSport Rugbyliga vind op Sondag, 15 Julie, op die Bridgton Sportgronde (Plate) op Oudtshoorn plaas.
Die besluit van Supersport om die eindstryd na Oudtshoorn te bring, volg op twee baie suksesvolle Supersportfeesbyeenkomste wat verlede jaar en weer vanjaar op Sondag, 20 Mei, aangebied is.
Die raad het by Vrydag se raadsvergadering dit goedgekeur dat die eindstryd op Oudtshoorn kan plaasvind met die munisipaliteit en die SWD Rugbyunie as die aanbieders.
Volgens die voorlopige beplanning sal die eindstryd asook ’n hoofvoorwedstryd deur SuperSport gebeeldsend word.
Die huidige SWD-kampioenspan, Progress, sal waarsynlik in die hoof-voorwedstryd teen Bridgton Rugby-klub te staan kom.
Die raad het besluit om ’n versoek aan die SWD Rugbyunie en SuperSport te rig om ook die betrokke dag ’n insetsel oor Oudtshoorn se toerismebesienswaardighede en sy mense, met die fokus op die inwoners van voorheen benadeelde gebiede, te beeldsend.