Bielie van ’n vis laat manne op hulle neuse kyk

Foto links: Madelein se kabeljou van 18,7 kg. Foto regs: Madelein saam met een van die kleiner kabeljoue wat sy tydens die kompetisie gevang het. Foto’s: Marcel du Preez.

Deur die week bedryf Madelein du Preez van Volmoed haar besigheid, Maddie Bridal Nest, maar naweke katrol sy visse in. Madelein het in Desember met die jaarlikse Cob Derby in Mosselbaai ’n bielie-kabeljou van 18,7 kg ingekatrol.

Dit het haar die eerste plek as vrouehengelaar in die kompetisie, maar ook as algehele tweede plek- wenner besorg.

Madelein sê 200 hengelaars op 43 bote het aan die kompetisie deelgeneem.

“Mosselbaai se hawe het soos spitsverkeer in Johannesburg gelyk toe al die bote wegspring,” sê sy. Madelein was een van vyf hengelaars op die boot, Time to Fish. Sy het drie kabeljoue uitgetrek en Time to Fish, was die algehele wenners van die dag.
“Ek hengel om te ontspan en te vergeet van elke dag se gejaag na wind. As jy my wakker maak en vir my ’n stok gee is ek dadelik reg om te gaan.”

Sy hengel reeds van kinderdae af, maar sê die gogga het haar eers agt jaar gelede werklik gebyt toe sy haar eerste groot vis uit die diepsee tot op die boot se dek getrek het. Sedertdien gaan hengel sy ten minste vier keer per maand. Alhoewel boothengel haar groot liefde is, maak sy ook lyne nat in damme en riviere.

Haar man en seun het saam met haar aan die kompetisie deelgeneem en het onderskeidelik derde en sesde plekke behaal.