Beukes en Buys wen!

Momentum Health Cape Pioneer Trek aangebied deur Biogen:  Swartbergpasskof lewer drama

Matthys Beukes en Philip Buys ry voor in die ysige, nat weer op die Swartbergpas met Alan Hatherly en Simon Andreassen kort op hul hakke.

Yolandé de Villiers en Charles McFall.

Kobus en Fienie Barnard.

Deur Schalk le Roux
Ná ’n uiters mededingende Cape Pioneer Trek het Matthys Beukes, ’n oud-Oudtshoorniet, en sy spanmaat, Philip Buys, dié uitdagende multiskof- bergfietsren oor sewe dae en altesame 1553km met ’n skrale voorsprong van 2 min 50 sek gewen.

In die proses het Beukes en Buys (Pyga Eurosteel) vier skofte (1, 2, 4 en 5) gewen, onder meer die dramatiese vyfde skof wat bo-op die Swartbergpas geëindig het. Hul algehele tyd oor die sewe dae is 21 uur 14 min 15 sek.

Alan Hatherly (Spur Specialized) van Suid-Afrika, wat verlede maand die o.23-wêreldtitel (cross country) by die UCI Bergfietskampioenskap in Switserland gewen het, en sy spanmaat Simon Andreassen van Denemarke, was algeheel tweede.

Hulle het drie skofte gewen, die proloog, skof 3 (’n tydtoets) en skof 6 (die laaste skof).

Mathew Beers, wat die CPT verlede jaar saam met Hatherly gewen het, en sy huidige spanmaat Gawie Combrinck (NAD MTB) was algeheel derde. Hulle was 10 min 41sek ná die wenners.

Die vroue-afdeling is gewen deur Cemile Trommer en Karen Bouwer (KMC Focus) in 25:26:25 met Yolandi du Toit en Catherine Williamson (Garmin) in die tweede plek .

Yolandé de Villiers van Oudtshoorn, en haar spanmaat Charles McFall (Silverback Volvo Mad Macs Kawasaki) het die gemengde afdeling gewen in 24:07:46. Nog twee Oudtshoorniete, Kobus en Fienie Barnard (GiantLiv), was algeheel tweede in die gemengde afdeling.

• Skof 5 oor 97 km wat bo-op die Swartbergpas 2000 m bokant seevlak geëindig het, het op meer as een manier vir drama gesorg. Die voorlopers het mekaar behoorlik opgedreun terwyl hulle moes rekening hou met ysige reën, sterk winde en temperature wat by tye benede vriespunt was.

Teen die pas het Beukes en Hatherly (van twee verskillende spanne) weggebreek van die voorste groep en mekaar opgedreun. Buys was egter op die dag te sterk vir Andreassen, en het voor hom by die wenpaal aangekom wat aan hom en Beukes die oorwinning te besorg het.

Weens die uiters ongure weer het Henco Rademeyer, wat in beheer van die CPT is, die skof vroeg afgelas omdat die deelnemers nie voorbereid was vir die toestande nie, en kon die meeste van die deelnemers nie die skof voltooi nie.

“Dit was nie ’n maklike besluit om te neem nie, maar ons kon nie anders weens die uiterste weers­toestande nie. Die deelnemers se veiligheid kom altyd eerste,” het hy gesê.

Spesiale groot vure is by Kobus se Gat naby die voet van die Swartbergpas aan die brand gesteek om die koue deelnemers weer warm te maak.

In die stadium toe die skof afgelas het, was daar kwalik 20 persent van die deelnemers reeds verby Kobus se Gat. Die res van die deelnemers het toe die skof by Kobus se Gat klaargemaak.