BBC maak skoonskip by vriendskaplike basketbaltoernooi

’n Lid van die Bridgton Basketbalklub uitoorlê sy teenstanders. Foto's: Ebenezer Titus

DIE Bridgton Basketbalklub (BBC) het Saterdag (23 Oktober) hul teenstanders van Bongolethu, George en Dysselsdorp oorrompel tydens ’n vriendskaplike toernooi in Dysselsdorp, en hulself gevestig as ’n span om mee rekening te hou.

Volgens Ebenezer Titus, afrigter van BBC, het sy span al drie hul wedstryde gewen in ’n toernooi wat deur Dysselsdorp Basketbal gereël is.

Titus het gesê dat, al het sy span skoonskip met hul teenstanders gemaak, hulle eintlik sleg gespeel het teenoor die gewone standaard van hul spel.

“Hierdie tipe toernooie is baie belangrik vir ons jongmense; nie net om fisies gesond te bly nie, maar ook om hulle positief besig te hou, veral in die lig van huidige Covid-omstandighede waar kinders maklik leeglê,” maan Titus.

Hy voeg by dat sy span die geleentheid gebruik het om te wys dat basketbal iets kan beteken vir ’n gemeenskap se jeug, en dat daar baie “lewe” in die sport is.

“Ons wil ook vra dat daar meer insette en betrokkenheid uit die gemeenskap en die dorp se leiers kom, sodat ons die sport kan bevorder,” het hy bygevoeg. (Deur Stefan Skapie Goosen)