Badgers beleef nagmerrie-aand teen Warriors

Foto verskaf.

Die Garden Route Badgers het Vrydagaand ’n teleurstellende nederlaag in die Yes Play Pro20-beker gely toe hulle op die Recreation Ground in Oudtshoorn teen die Dafabet Warriors vasgeval het. Die tuisspan se kolfbeurt het in duie gestort en ’n groot teleurstelling vir die tuisondersteuners opgelewer.

Die Badgers, wat eerste gekolf het, is ná slegs 16,2 boulbeurte vir ’n skamele 68 lopies uitgeboul. Dit is die span se laagste telling nóg in die T20-formaat. Die vorige laagtepunt was 72/6 teen die Vrystaat gedurende die 2015/16-seisoen.

Kaptein Janneman Malan was een van die min kolwers wat weerstand gebied het en 19 lopies van 27 balle aangeteken, met een vierslag. Die res van die kolforde kon egter nie die Warriors se uitstekende boulwerk en veldwerk te bowe kom nie.

Thomas Kaber, wat voorheen die Badgers verteenwoordig het, was besonder doeltreffend met die bal en is as Speler van die Wedstryd aangewys nadat hy 3 paaltjies vir 10 lopies in 2,2 boulbeurte geneem het. Kerwin Mungroo het ook uitgeblink met 2/7 in vier boulbeurte, terwyl Jason Raubenheimer 2/9 in drie boulbeurte bygedra het.

Die Warriors het min tyd gemors om die teiken te bereik. Hulle het die vereiste 69 lopies in slegs 9,3 boulbeurte aangeteken en met 70/1 geëindig om ’n oorwinning met nege paaltjies en ’n bonuspunt te verseker.

Kaptein Michael de Villiers was die uitblinker met ’n onoorwonne 50 lopies van net 26 balle, insluitend twee sesse en agt viere.

Ondanks dié swaar nederlaag het die Badgers steeds ’n realistiese kans om vir die Super 8-fase te kwalifiseer. Hulle het nog twee poelwedstryde oor en beklee tans die vierde plek op die Pool B-puntelys.

Be the first to comment on "Badgers beleef nagmerrie-aand teen Warriors"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*