All Blacks RFC hou toekenningsaand

Bo: Michael Tyali, wat as Sportman van die Jaar aangewys is, saam met die All Black RFC-legende, Winston Coerecius. Onder: PJ Sauls, wat verlede Vrydagaand in ’n motorongeluk oorlede is, is deur die spelers as die Speler van die Jaar aangewys. Foto’s verskaf

Die All Blacks Rugbyklub het Saterdagaand, 9 November, hul toekenningsaand by die banketsaal in Oudtshoorn gehou.

Die gasspreker vir die aand was die All Blacks RFC-legende, Winston Coerecius. Dit was egter ’n somber aand vir die rugbyklub aangesien een van hulle spelers, Peter-John Sauls, die vorige aand in ’n motorongeluk oorlede is.

Sauls is deur die spelers as die Speler van die Jaar aangewys. Hy het hierdie jaar by die All Blacks RFC aangesluit vanaf Collegians. Sauls was ’n kranige skrumskakel, maar het homself gevestig as losskakel by die All Blacks. Volgens sy spanmaats en die bestuur van die span was hy ’n natuurlike leier, en ook die kaptein van die eerste span.
Sauls word ook beskryf as ’n speler wat nie ’n bang haar op sy kop gehad het vir sy opponente nie, al was hulle groter as hy.

PJ, of Pokkel soos hy bekend gestaan het, was ’n nederige jongman en baie respekvol.
“PJ het altyd ’n glimlag op sy gesig gehad en het soveel planne vir sy skoolkinders en sy loopbaan as sulks gehad,” het Damon Gysman, voorsitter van All Blacks, aan Die Hoorn gesê.

Die Sportman van die Jaar-toekenning is aan Michael Tyali toegeken. (LINDI BRILL)