RALPH KOSTER, Jaco Zwiegelaar, Hilmar van der Berg en Smith Steenkamp was Donderdag (3 November) die wenners van die jaarlikse Klein Karoo Agri (KKA) Gholfdag by die Oudtshoorn Gholfklub.
Altesaam 120 spelers het aan die baie suksesvolle gholfdag deelgeneem.
Tydens die prysuitdeling is ’n tjek van R15 000 aan die Eljada Nasorgsentrum oorhandig. Wilma Lemmer, wat die tjek in ontvangs geneem het, het die KKA namens die sentrum bedank.
Die besturende direkteur van KKA, Terblanche du Plessis, het tydens die prysuitdeling die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid beklemtoon. Hy het KKA se verskaffers bedank wat bygedra het om die dag moontlik te maak.
Volgens hom is die dag ook ’n geleentheid om vir produsente dankie te sê en sodoende ook verskaffers en produsente bymekaar te bring.
“Verder ondersteun die dag ook die Oudtshoorn Gholfklub,” het du Plessis bygevoeg. Die spelers is na afloop van die prysuitdeling ook op ’n heerlike ete getrakteer. (Deur Garnett Wicomb)
120 spelers ondersteun Klein Karoo Agri Gholfdag
LINKS: Die wenners van vanjaar se Klein Karoo Agri Gholfdag is van links Smith Steenkamp, Hilmar van der Berg, Ralph Koster en Jaco Zwiegelaar saam met Laurence Schroeder (middel) van die dag se hoofborg, Total Energies. REGS: Terblanche du Plessis, besturende direkteur van Klein Karoo Agri, Wilma Lemmer van die Eljada Nasorgsentrum en Francois van Eyssen van ABSA met die tjek van R15 000 wat aan die sentrum oorhandig is. Foto’s: Garnett Wicomb