11de Timbercity Cycle Tour Sondag op Oudtshoorn!

Die wegspring van ’n vorige Timbercity Fietsren.

DIE jaarlikse Timbercity Cycle Tour vind vanjaar op Sondag, 9 Oktober hier in Oudtshoorn plaas! Dit is die elfde keer dat hierdie fietsren op die dorp aangebied word.

Oudtshoorn sal gasheer speel vir ongeveer 1 000 mense wat die dorp sal besoek vir hierdie wedren. Bevestigde spanne van die Wes- en Oos-Kaap sal hier kom deelneem.

Die wedren dien ook as ‘n sogenaamde “seeding event” vir die bekende Cape Town Cycle Tour. Die uitvoerende hoof van dié wêreldbekende Kaapse Fietsren, David Bellairs, gaan self op Oudtshoorn teenwoordig wees om die Timbercity Fietsren te ondersteun.

Nog eregaste wat by die fietsren op Oudtshoorn teenwoordig sal wees is minister van die Wes-Kaapse departement sport en kultuur, Anroux Marais, asook afgevaardigdes en nasionale keurders van Fietsry Suid-Afrika.

Anriette Schoeman, sewe-malige wenner van die Elite Vroue-afdeling van die Timbercity Fiets-ren, sal ook as eregas teenwoordig wees. Buiten hierdie formidabele fietsryer sal Oudtshoorn se eie Charlissa Schultz – Protea-ryer – ook kom deelneem, tesame met agt ander Suid-Afrikaanse mans- en vroue-kampioene! Theuns van der Bank, die verdedigende Timbercity-kampioen, sal ook kom meeding.

Inskrywings vir die fietsren is nog oop, en fietsryers kan Saterdag tussen 17:00 en 19:00 en Sondagoggend, voor die wedren begin, inskryf. Inskrywings sal by Route 62 Bar & Grill in Baron van Reedestraat gedoen word, wat dan ook om 07:30 Sondagoggend dien as die wegspringpunt van die fietsren.

“Ons nooi almal uit om te kom deelneem. Die publiek moet asseblief kennis neem van die tydelike sluiting van Baron Van Reedestraat vanaf 05:00 tot 13:00 vir die wedren en ons vra almal se geduld hiermee,” sê Sonja Schultz, Eden Fietsry administrateur.

Daar sal ook op die dag ‘n “gravel bike”-wedren plaasvind wat deur die Rotariërs van Oudtshoorn aangebied word.

“Ons vra dat die gemeenskap hierdie wedren kom ondersteun. Die ystervrou van Oudtshoorn en voormalige SA XCM-kampioen, Yolande de Villiers, gaan ook aan hierdie wedren deelneem,” sê Schultz.

Corné Bence, president van die Eden Fietsry-vereniging, voeg by dat die vereniging baie uitsien daarna om deelnemers en toeskouers by die fiets-ren te verwelkom. (Deur Stefan Skapie Goosen)