Van Reede groet besonderse leerkragte

Van links: Manie Olivier en Jay Gerber

LAERSKOOL VAN REEDE op Oudtshoorn het einde 2021 afskeid geneem van twee onderwysers wat diep spore by die skool en in baie kinders se lewens getrap het – die legendariese Manie Olivier wat byna 40 jaar aan die skool verbonde was, en die kunstige Jay Gerber wat 25 jaar daar skoolgehou het en met ’n verfkwas enigiets in ’n kunswerk kon omskep.

Olivier se aftrede ná byna 40 jaar is inderdaad die einde van ’n era by die skool. Hy het sy skoolloopbaan by Laerskool Van Reede begin en was hoofseun in 1973, en het ná afloop van sy studie in 1985 teruggekeer na sy alma mater en op verskeie gebiede teruggeploeg. Oor die jare was hy baie se mentor, ’n vriend, ’n kollega, ’n sportman en onderwyser van formaat.

Hy het die skool se o.13A-rugby- en krieketspan 36 jaar lank met welslae afgerig, op feitlik elke denkbare skoolkomitee gedien en die harte van leerders en ouers gewen met die manier waarop hy vir kinders omgegee het – ongeag kultuur of agtergrond. Hy was ’n rolmodel en pa-figuur vir vele.

Tydens sy lang loopbaan het Olivier onder vyf skoolhoofde gedien, kinders op tien agtereenvolgende Oranjériviertoere vergesel en selfs twee toere na die Kruger Wildtuin onderneem.

’n Hoogtepunt was toe hy aangewys is as die Eden Distrik se Laerskole Sportbestuurder van die Jaar en ’n SWD-sporttoekenning ontvang het vir sy lewensbydrae. Laerskool Van Reede vereer hom deur die rugbyveld na hom te vernoem.

Olivier sê hy kan maar net dankie sê vir dié 40 jaar. “Dankie vir die voorreg om met soveel wonderlike leerders, onderwysers en ander kollegas te kon saamwerk. Dankie vir elke glimlag, vir elke lag en vir elke stukkie deel. Vir my was dit ’n voorreg om kinders op hul lewenspad te help en ’n voetspoor na te laat waarin hulle en hul kinders kan volg.”

• Die talentvolle juffrou én kunstenaar Jay Gerber sal onthou word vir hoe sy op haar vriendelike en beskeie manier menige skoolmure met ’n kwas in kunswerke kon omskep.

Sy was as onderwyser ’n ware verkleurmannetjie wat ’n Engelse Huistaalklas of ’n Afrikaanse Huistaalklas ewe goed kon aanbied.

Sy sê haar jare by Laerskool Van Reede was baie spesiaal. “Hoe verpak mens só ’n voorreg en só ’n grootse ervaring in woorde?

“Ek kyk terug na menselewens wat ek kon aanraak, beïnvloed en deel van kon word. Ek kyk terug na kwaliteit kollegas; kieskeurig uitgesoek deur God se hand… vir my. Ek kyk terug en besef dat tyd maar net ’n oogwink is. Ek gaan weg met vreugde in my hart.”