Uitstaande kuns by Jeugkuns- en Fotoweek

Die plaveiselkunskompetisie in volle swang. Foto: Kristy Potgieter

By die opening van die Jeugkuns- en Fotoweek was van links Gerhard Rudolph (skoolhoof, Hoërskool Oudtshoorn), Kyla Visagie, AnLi­zé Vermeulen en Johan Coetzer (kuns-onderwyser).  Foto: Angelique Erasmus

Kyla Visagie van die Hoërskool Oudtshoorn, die algehele hoërskole-wenner, by van haar werk. Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
DIE 16de jaarlikse Jeugkuns- en Fotoweek wat jaarliks deur die Hoër­skool Oudtshoorn aangebied word, het vanjaar weer getoon hoe kreatief die leerders van die streek is.

Die uitstalling was tussen verlede Donderdag en Saterdag (8 tot 10 Augustus) vir besigtiging oop in die Hoërskool Oudtshoorn se skoolsaal. Kunswerke van die leerders van verskeie laerskole en hoërskole tot so ver as Ladismith was te sien.

Onder die kunswerke was verskeie draadkunswerke van leerders van Langenhoven Gimnasium wat hul graad 9-leerders uitgedaag het om ’n kunswerk uit een meter draad te skep, met die opdrag dat die ontwerp ’n spesiale betekenis vir hul moet hê.

Enige addisionele materiaal behalwe die draad moes van herwinbare materiaal wees.

Leerders van die Eljada Kairos Skool het kleurvolle kunswerke van wol en selfs van krale ingeskryf.

Daar was ook indrukwekkende potloodsketse van leerders van die Laerskool Wesbank en Laerskool Laurus en kleursketse van die Oudts­hoorn Vaardigheidskool se leerders te sien.

Kunswerke van leerders van Little Bo-Peep, die Laerskool Van Reede, Colridge Primêr, die Hoërskool Oudts­hoorn, Pikwaso (Crafts for Kids) en die Shalom Akademie het voorts aandag getrek.

’n Plaveiselkuns-kompetisie Donderdagmiddag, waaraan leerders van laer- en kleuterskole deelgeneem het, het ook vir baie kreatiwiteit en pret gesorg.

• Die wenners van die uitstalling was Kyla Visagie van die Hoërskool Oudtshoorn (algehele wenner hoër­skole-kunswerke), Ne­rine van der Merwe van Pikwaso (algehele wenner laerskole-kunswerke) en Enicia

Courecius van die Hoër­skool Oudts­hoorn (algehele wenner fotografie).

Die wenners van die Plaveisel­kuns­kompetisie was Evandre Scholtz (graad 1), Jillian Damons (graad 6) en Colleen Beukes (graad 7) van die Laerskool van Reede.