Oudtshoorn Dierekliniek vier 25 jaar!

Dierekliniek se span
Die span van die Oudtshoorn Diere­kliniek / Oudtshoorn Veterinary Clinic op Oudtshoorn is voor van links Deidre Olkers, Louisa van Niekerk, dr Karlien Botha, Louise Terblanche en Mannetjie Dolf. Agter van links is Jorina Geldenhuys en dr Glen Carlisle.  Foto: Christine Schoeman

DIE Oudtshoorn Dierekliniek / Oudtshoorn Vete­rinary Clinic vier vandag, 15 Augustus, ’n besonderse mylpaal wanneer dié praktyk van dr Glen Carlisle ’n kwarteeu oud word!

Glen het die praktyk 25 jaar gelede by dr Shaun Seaman gekoop en saam met sy vrou. Liesl, uit Pretoria na die Klein Karoo getrek.

Glen sê hy het op die Oos-Kaapse platteland grootgeword en wou graag uit die stad terugtrek platteland toe. Toe hy hoor dat die praktyk op Oudtshoorn te koop was, het hy die geleentheid aangegryp.

Hulle geniet dit baie om op Oudtshoorn te woon, sê Liesl, en is dankbaar vir al die geleent-hede wat dit hulle gebied het. “Ons hoop om te kan teruggee waar ons kan en uitstekende diens en sorg aan ons kliënte en pasiënte te bied.”

Ook Glen sê hy was nog nie een dag spyt oor die besluit om na Oudts­hoorn te trek nie.

In ’n plattelandse veeartspraktyk doen jy alles, vertel hy. In sy praktyk kry hulle die geleentheid om met plaasdiere, wilde diere en troeteldiere te werk.

Volgens hom het hy dit van die begin af as veearts baie geniet om met veral beeste te werk. Hy is egter ook lief daarvoor om met wilde diere te werk en kry op Oudtshoorn deur die Cango Wildlife Ranch dikwels die geleentheid daarvoor. Voorts hou hy baie van chirurgie en doen hy die meeste van die operasies op diere op die dorp.

Hy is ook baie betrokke by plaaslike dierewelsyn en tree as mentor op vir gemeenskapsveeartse en is ook betrokke by die praktiese opleiding van finale jaar- en internasionale studente.

Glen en Liesl is voorts nog al die jare baie betrokke by die gemeenskap van Oudtshoorn.

Hulle was byvoorbeeld baie betrokke by die skole waar hul kinders, Jason en Leigh-Anne, skoolgegaan het.

Jason en Leigh-Anne, albei oud-leerders van die Hoërskool Oudtshoorn, woon in Bloemfontein waar

Jason as sportwetenskaplike by die Vrystaat Universiteit werk, terwyl Leigh-Anne vir haar graad in argitektuur studeer.

Glen was ook lank lid van die Oudts­hoorn Round Table, het onlangs sy 15de jaar as raadslid van die

Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad voltooi, en is baie aktief in sy plaaslike gemeente.

Nuwe gesigte by die Oudtshoorn Dierekliniek verwelkom
Die Oudtshoorn Dierekliniek het in Maart vanjaar vir dr Karlien Botha van Pretoria verwelkom wat as veearts by hulle aangesluit het. Karlien sê sy is baie opgewonde oor dié geleentheid.

“Ons verwelkom haar en sien uit daarna om saam met haar te werk. Dr Karlien is ’n baie bekwa­me veearts en sy bring nuwe kennis en per-s­pektief na die praktyk,” sê Glen.

Louise Terblanche van Plettenbergbaai is die praktyk se nuwe ontvangspersoon. “Ons is baie bly dat sy by ons aansluit en sien uit na haar vars idees en vernuwing. Sy sien uit daarna om almal te ontmoet.”