Top-Struisies ryg die A-simbole in

Nika van Heerden, Sebastiaan Nieuwoudt, Cornél Kruger en Imogen Fourie.

OUDTSHOORN HOëRSKOOL se matriekklas van 2020 het dit reggekry om te midde van die Covid-19-pandemie ’n 97,8%-slaagsyfer te behaal. Die matriekklas spog verder met 108 A-simbole, 128 B-simbole en 133 C-simbole. 82,4% van dié matrieks het universiteitsvrystelling gekry.

Die Hoorn het verlede week oor Robert Swart (89,86%), die skool én die Groter Oudtshoorn se top-pres­teerder berig. Vandeesweek skryf ons oor van die skool se ander topmatrieks.

In die tweede plek, met haar gemiddeld van 86,71%, is die 18-jarige Nika van Heerden wat ses A-simbole gekry het vir Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, lewensoriëntering, ­toerisme, geografie en lewenswetenskappe. Sy het met toerisme volpunte net-net gemis. Sy het 99% vir dié vak behaal.

Maar met hierdie uitslae, en die wêreld wat voor haar oop lê, sê Nika is sy nog nie seker van haar roeping nie. “Ek het daarom besluit om 2021 te gebruik om uit te vind wat ek graag sal wil studeer. Ek is op die oomblik besig met ’n rekenaarkursus by die National Computer College hier op Oudtshoorn.

Rekenaargeletterdheid is tog iets wat ’n mens deesdae op alle terreine beno-dig,” sê sy.

Op skool, vertel Nika, was sy sedert graad 8 in die top-10 van haar klas en sy was ook 2020 se onderhoofmeisie.

Buiten skool neem sy graag foto’s, veral van die natuur, leef sy haar belangstelling in die rolprentbedryf uit deur graag baie flieks te kyk, en het sy onlangs haar eie groentetuin begin.

Haar ma Lizaan is ’n remediërende onderwyseres op Oudtshoorn.
Nika se boodskap vir vanjaar se matriekklas? “Alle sterkte! Mag die Here julle vanjaar met gesondheid, vreudge en sukses seën.”

In die derde plek is Sebastiaan Nieuwoudt (18) met ’n gemiddeld van 85,86%. Hy het A-simbole vir wiskunde, musiek, ingenieurgrafika en ont-werp, lewensoriëntering, Afrikaans huistaal en Engels eerste addisionele taal te verwerf.

Op skool het Sebastiaan ook sy vlak 3-noodhulpkwalifikasie gekry, en was hy deel van die matriekraad.

Sy lus vir die skoollewe is ook nog nie verby nie, selfs nie ná die uitmergelende 2020-pandemiejaar nie, want volgens Sebastiaan gaan hy vanjaar onder- wys studeer aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie op Wellington.

“Ek voel dis my passie en dis hoe ek ’n verskil kan maak in jongmense se lewens.”

Wanneer hy nie voor die boeke sit nie, speel Sebastiaan graag klavier of die baskitaar, met ’n potjie gholf nou en dan daarby.

Sy ouers, Brian en Annelie, woon albei op Oudtshoorn. Sy pa is die be-stuurder van De Cango Farm en is ook musikant. Sy ma beklee ’n administratiewe pos.

Met ’n paar honderdstes van ’n per-sentasiepunt minder as Sebastiaan is Cornél Kruger (19) in die vierde plek, met ’n gemiddeld van 85,43%.
Cornel het A’s behaal vir rekening­kunde, besigheidstudies, Engels eerste addisionele taal, Afrikaans huistaal en lewensoriëntering. Hy gaan lewenswetenskappe laat hernasien met die hoop om nog ’n A te kry, voeg hy by.

Cornel sê hy gaan vanjaar internasionale besigheidsbestuur by Stellenbosch Universiteit studeer.

“Ek wil eendag my eie internasionale handelsmerk begin en droom om ’n gimnasium en gesondheidswinkel te begin,” vertel hy.

Laaste, maar nie die minste nie van die Struisies se top-5 is Imogen Fourie (18), 2020 se Mej Struisie.

Imogen het 84,43% in die eindeksamen verwerf met ses A-simbole vir Engels huistaal, Afrikaans eerste addisionele taal, wiskundige geletterdheid, lewensoriëntering, besigheidstudies en ontwerp.

Imogen het planne om vanjaar in die VSA te gaan au pair en in 2022 te gaan studeer. (Deur Stefan Skapie Goosen)