Oudtshoorniet maak ’n Punt om uit te staan!

Ané Venter wat ’n gemiddeld van 90,45% behaal het. Foto verskaf

DIE 18-jarige Ané Venter van Oudts­hoorn,wat sedert haar graad 10-jaar by die Hoërskool Punt op Mosselbaai skoolgegaan het, het met haar 2020-matriekuitslae – ’n gemiddeld van 90,43% – tweede plek in haar matriekklas verower.

Ané, wat haar skoolloopbaan by die Laerskool Wesbank begin het, het sewe A-simbole vir Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, rekeningkunde en lewensoriëntering verwerf.

Vir haar gunsteling-vak, rekeningkunde, het sy 95% behaal. Sy skryf haar sukses toe aan haar geloof en onderwysers. “Sonder Jesus se hulp sou ek nie hierdie prestasie kon behaal nie,” sê sy.

Ané het ook op ander gebiede presteer. Sy was lid van haar skool se leerderraad en hoofmeisie van haar koshuis, Huis Pepler. Sy het ook vir die o/18A-hokkiespan gespeel.

Sy sê hoewel sy in 2020 steeds baie hard gewerk het, was dit ’n jaar waarin die sosiale aspek van skool vir haar uitgestaan het. “Almal praat van 2020 as die slegste jaar ooit, maar dit was my beste jaar ooit!” Sy sê sy was veral versot daarop om tyd saam met vriende by die see deur te bring.

Ané gaan vanjaar LLB aan die Universiteit van Noord-Wes studeer. Sy sê sy sien baie uit na avonture in Potchefstroom en beoog om eendag haar horisonne selfs verder as Suid-Afrika uit te brei. (Deur Stefan Skapie Goosen)