Deon Bosman skryf oor matriekuitslae en die toekoms
Ek sien hoe my pêlle met trots verkondig dat hulle kinders matriek geslaag het… Vir baie van hulle lê nog ’n paar jaar se studie voor; ander gaan dadelik probeer om werk te kry.
Daar is verskillende redes. Dalk is daar nie geld vir studeer nie, dalk kan hulle nie plek kry in ’n tersiêre inrigting nie of dalk het hulle gewoon nie matriekvrystelling nie. Punt is dat elkeen van hulle nou voor die uitdaging van die werklike lewe te staan gekom het.
Vir elkeen lê daar drome voor – die ambisie om ’n goeie werk te kry, ’n eie motor te besit, te trou, huis op te sit en met ’n familie te begin.
Dis egter nie maklik in hedendaagse tye nie.
Nie almal het die voorreg om vermoënde ouers te hê wat daarmee kan help nie.
Ek hoor weer gisteraand die regering praat van volhoubare werkskepping… Sit ek toe en dink by watter instansies kan enigeen vandag begin werk en ’n loopbaan met bevorderings en al die voordele bou tot die dag van aftrede?
Ek dink nie daar is meer baie daarvan nie.
In hierdie stadium van my lewe het ek min of meer bereik waaroor ek gedroom het. Nou wat nou? Ek het nie die ambisie, krag of tyd om enige iets meer te wil of te kan doen nie. Dus onderhou jy maar wat jy het en sien hoe die eindstreep naderkom. Dis eintlik maar ’n doellose dag-tot-dag-bestaan in afwagting vir die eindfluitie om te blaas – no regrets!
Ek wens vir elke matrikulant die beste toe: Droom jou droom, trap jou pad vorentoe oop en smaak die sukses wat jy dalk gaan bereik.
Onthou net een ding – dit het David Gresham altyd na sy radioprogram gesê: Keep your feet on the ground and reach for the stars!
In enige beroep is daar net een reël wat tel en dit is om die beste te lewer waartoe jy in staat is. En ken jou plek.
Om halfmas deur die lewe te ploeter is ’n keuse; om voluit te gaan is ook ’n keuse – die resultate is net beter. Sterkte!
