Vrou van Dysselsdorp skuldig bevind aan die moord van haar pasgebore baba

’N VROU van Dysselsdorp wat ten spyte van haar vierde swangerskap voorgehou het dat sy nie geweet het sy is swanger nie en in ’n toilet geboorte aan ’n seuntjie geskenk het, is Dinsdag 2 Maart in die Oudtshoorn Streekhof aan moord skuldig bevind.

Die 42-jarige Haroldene Korkee het op 15 Oktober 2019 geboorte aan die seuntjie geskenk en geweier om van die toiletpot af te klim toe vroue haar wou help.

Volgens haar was sy te swak om op te staan en ontken sy dat die vroue, onder wie ’n paramedikus, haar wou help.

“Niemand wou my help nie,” het sy getuig.

Volgens mediese verslae het die kind nie verdrink nie maar versmoor as gevolg van die plasenta om sy nek. Dit neem ook lank om te kraam en foto’s toon dat die kind ten volle ontwikkel het.

Korkee het onskuldig gepleit.

Sy het glo nie die gewone oggendsiekte en hoofpyne ervaar soos voorheen nie en ook nie gewig aangesit nie.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het dit aan Korkee gestel dat sy doelbewus opgetree het.

Streeklanddros Ntsoki Moni het Korkee se getuienis as onwaarskynlik bevind en ook bevind dat sy die doel gehad het om die kind dood te maak.

“Die vraag is wat die beskuldigde gedink het kom uit haar liggaam.

“Sy is nie ’n grootgeboude vrou nie en sy moes agtergekom het dat sy swanger is.

“Sy het dit reggekry om na die toilet te stap en nie probeer om van die toiletpot te gly toe sy die baba hoor huil het nie.

“Die beskuldigde het nie ’n poging aangewend om ’n lewe te red nie en het alle intensies gehad om die baba te vermoor,” het die landdros gesê.

Korkee het een vorige veroordeling deurdat sy in Augustus 1999 aan poging tot moord skuldig bevind is en ’n opgeskorte vonnis van vyf jaar ingevolge Art 276 (1) (i) asook twee jaar korrektiewe toesig opgelê is.

Die hof het Dinsdag gelas dat Korkee, wat tot nou op borgtog was, aangehou word vir vonnisverrigtinge op 8 April. (Deur Garnett Wicomb)