DIE borgaansoek van ’n Gautenger wat ’n sakeman van Oudtshoorn glo uit meer as ’n halfmiljoen rand bedrieg het, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn landdroshof tot 12 Maart uitgestel vir reaksie van die staat.
Dale Ronald Harmse (50) staan tereg op klagtes van bedrog, diefstal en geldwassery. Hy pleit onskuldig.
In ’n dokument van 27 bladsye vra sy regsverteenwoordiger, adv Riaan Pienaar, die hof om borgtog toe te staan omdat dit in belang van geregtigheid is en Harmse van mening is dat hy nie skuldig bevind kan word nie.
Pienaar het die hof meegedeel dat hoewel Harmse verskeie vorige veroordelings vir diefstal en bedrog op sy rekord het, hy nie sal vlug nie. Hy het ook alle geld in sake waarin hy skuldig bevind is, aan die klaers terugbetaal en nooit weggebly van hofverskynings nie.
Volgens Pienaar sal Harmse getuig dat hy hom nooit as ’n advokaat aan die klaer of enige ander persoon voorgestel het nie.
Hy vra voorts om vrygelaat te word omdat sy vrou en stiefseun vir wie hy sorg nou geen inkomste het nie omdat sy bankrekeninge ook bevries is.
Pienaar het die hof versoek om Harmse op waarskuwing vry te laat omdat hy nie toegang tot enige van sy fondse het nie en wil aangaan met sy besigheid.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof vir uitstel gevra omdat hy tyd nodig het om die aansoek te bestudeer.
Pienaar het hierteen beswaar aangeteken maar landdros René Gerber het die versoek toegestaan en die saak tot 12 Maart 2021 uitgestel omdat dit die eerste beskikbare datum is. (Deur Garnett Wicomb)