Struisies presteer landwyd op sport-vlak

LEERDERS van die Hoërskool Oudtshoorn was tot dus ver heel bedrywig in die derde kwartaal, met ’n handvol van hulle wat landwyd op sport-vlak presteer het.

Twee leerders, Audan Olivier en Edward Dalton, het tydens die Julie-vakansie oor vier dae aan die Kaapstadse Premier Hokkieliga gaan deelneem.

Terwyl Audan vir die o.18 Rebels-span uitgedraf het, wat die vyfde plek in die toernooi behaal het, het Edward vir die o.14 Heat-span uitgedraf.

Edward is twee keer tydens die toernooi as Speler van die Wedstryd bekroon, en sy span het die derde plek algeheel behaal. Hy is ook as Marquee-speler in die span behou.

Sarah-Jane Lewis het in Augustus tydens die SA Elite Nasionale Karate-kampioenskap in Durban in KwaZulu-Natal uitgeblink en ’n goue medalje verwerf in die kadet 45 kg-afdeling. Sy is ook genooi om aan die Unie van Afrika Karate-verenigings se kompetisie in Egipte deel te neem.

Ninke Griffioen en Jada Coetzee, twee swemmers wat gereeld op sportblaaie op Oudtshoorn verskyn, het die goue medaljes by Swem Suid-Afrika se gala ingepalm.

Ninke het met goud weggestap in die vlak-2 100 m en 200 m-vryslag, en die 100 m-rugslag, met ’n silwer in die 50 m-rugslag daarby.

Op haar beurt het Coetzee met goud weggestap in die vlak 3 100 m-vryslag, 200 m-rugslag en 100 m-vlinderslag. Sy het brons in die 50 m-vryslag, 50 m-vlinderslag en 200 m individuele wisselslag gewen.

Laaste, maar nie die minste nie, is Patricia Esterer vir die o.19 SA Interpro tennisspan gekies. (Deur Stefan Skapie Goosen)