SA TWEEKAMP het tydens ’n geskiedkundige spesiale jaarvergadering op Woensdag, 8 September, met alle provinsies en die volle SA bestuur teenwoordig, ingrypende besluite geneem om te verseker dat tweekamp in Suid-Afrika by die eise van die vinnig-veranderde omstandighede wêreldwyd aanpas.
Volgens Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden Tweekamp, sal hierdie veranderinge – onder meer afstande wat afgelê word tydens items – reeds met die komende seisoen in werking tree, afhangende van Covid-beperkinge.
“Dit behels kortliks dat daar groter samewerking met SA Vyfkamp gaan wees, en ook dat ons twee-kampers ’n mind-shift sal moet maak om daarby aan te pas,” sê Van der Walt.
Hy sê die aanpassings sal egter onder meer tot voordeel hê dat internasionale deelname moontlik gaan word, byeenkomste se tydsduur heelwat korter gaan wees, meer aktiewe atlete betrek kan word, en ouderdomsgroeperinge nou sal aanpas by atletiek s’n en bepaal sal word deur ouerdom op 1 Januarie.
“Eden Tweekamp het ’n opname onder sy atlete en bestuurlede gedoen, en 77% het aangedui dat hulle ten gunste van die verkorte afstande is,” het Van der Walt gesê.
Verdere nuus is dat SA Tweekamp Eden Tweekamp versoek het om die eerste SA Kampioenskap in die nuwe formaat in Maart/April 2022 op Oudtshoorn aan te bied, vertel hy.
Tweekamp verander
