Spanning oor chemiese toilette bereik kookpunt

Bidvest-toilette wat deur inwoners om die Bongolethu-sirkel gegooi is (heel bo), en die uitgebrande reste van ’n toilet onder. Foto’s: Stefan Skapie Goosen

DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het vandeesweek onderneem om ondersoek in te stel na die toestand van toilette wat deur Bidvest in nedersettings van die Groter Oudts­hoorn geplaas is.

Dit volg nadat spanning rakende die verskaffing van en dienslewering verbonde aan chemiese toilette vir informele nedersettings op Oudtshoorn Dinsdag (14 September) kookpunt bereik het, met die gemeenskap en openbare orde polisïerings-eenheid (POPS) wat koppe gestamp het.

Inwoners van gemeenskappe rondom die Bongolethu-sirkel, onder meer Seppieville, het dié oggend die toilette wat deur Bidvest aan hul verskaf is, by die in- en uitgange van die sirkel geplaas om die paaie te versper.

Dinsdag se protesaksie, wat brandende voor­-werpe in die pad ingesluit het, volg op weke van ontevredenheid onder inwoners oor die tender vir 854 chemiese toilette in informele nedersettings wat aan ’n nuwe verskaffer, Bidvest, toegeken is.

Inwoners is onder meer bekommerd oor die toestand van die nuwe toilette wat nou aan hulle gelewer sal word.
Top Loos, ’n plaaslike maatskappy, was die afge­lope meer as 10 jaar die verskaffer en moet nou hul toilette verwyder. Hul kontrak het einde Augustus verstryk, terwyl Bidvest met ingang 1 September vir die volgende drie jaar die toilette sal verskaf en onderhou.

Dit is egter hier waar talle inwoners ’n streep trek. Volgens hoofman Andrew Damons, lid van die Wyk 8-nedersettingskomitee en ’n woordvoer­der van die ontstoke gemeenskappe, gee die munisipaliteit geensins om oor inwoners se insette oor sake wat hul lewens affekteer nie, en sal hulle geen diensverskaffer in hul gebiede toelaat om toilette te verwyder of af te lewer nie.

Damons sê die gemeenskap het Dinsdag tot aksie oorgegaan omdat “die munisipaliteit” nie met hulle praat nie en omdat hul griewe op dowe ore val. Die skare inwoners – mans, vroue, oud en jonk – is deur die polisie met skokgranate en ’n waterkanon uiteengejaag terwyl Bidvest toegelaat is om toilette wat in die pad gegooi is, te verwyder.

“Hoe kan die polisie dit doen, sonder waar­skuwing? Ons was dan nie oproerig nie, en hier is ou mense en kinders. Hulle het amper van die huise omgespuit,” het Damons woedend gesê, ondersteun deur ’n koor stemme van inwoners om hom.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word ’n klagte van openbare geweld ondersoek nadat beide die Oudts­hoorn Polisie en POPS moes reageer. “Na bewe­ring is die inwoners ontevrede oor toiletgeriewe. Hulle het toilette asook motorbande in die straat aan die brand gesteek,” het Michaels gesê.

Volgens haar moes die polisie skokgranate en die waterkanon gebruik nadat verskeie pogings om mense te waarsku om te ontruim en die kinders van die toneel af te verwyder misluk het. Niemand is in hegtenis geneem nie.

Reginald Smit, waarnemende munisipale be­stuur­der, en Gerald de Jager, finansiële hoof, het wel later die oggend die Bongolethu-sirkel besoek.

Volgens Smit was inwoners se grootste pro­bleem die toestand van huidige toilette wat nog nie skoongemaak is nie en volgens inwoners ’n ge­sond­heidsrisiko inhou. “Die toilette waarna ons gekyk het, is dié van Top Loos wat nog nie verwyder of gediens is die afgelope twee weke nie. Ek het dit duidelik gemaak aan die gemeenskap dat die toilette van Bidvest in die dorp is en in hul woongebiede geplaas sal word sodra Top Loos hul toilette verwyder,” het Smit gesê.

Volgens Smit het hy die verskaffingsproses aan die gemeenskap verduidelik, en duidelik gemaak dat Top Loos se kontrak einde Augustus verstryk het. “Ons het onderneem om na die toestand van die toilette wat deur Bidvest verskaf word te kyk. Dit mag nie in ’n swakker toestand wees as toilette wat Top Loos verskaf het nie.”

Volgens Smit het dit voorgekom of die gemeenskap tevrede was na die gesprekvoering.

Phillip Olivier, ’n direkteur van Top Loos, het vandeesweek gesê dat dit bykans onmoontlik is vir sy span om toilette te verwyder, omdat die inwo­ners hulle nie wil toelaat nie. Olivier sê sy span kon slegs sowat 30 toilette suksesvol verwyder en dat hy die munisipaliteit daaroor ingelig het.

Olivier sê ook bewerings dat hy ’n hofsaak gemaak het, waar hy die proses bevraagteken, is onwaar. (Deur Stefan Skapie Goosen)