Skole vat hande met noodhulp

Die leerders van Langenhoven Gimnasium by die bokse waarin die donasies geskenk kan word by supermarkte. Van links is Louis Jonck (onderhoofseun), Megan Taljaard (hoofmeisie) Amay Stemmet (onderhoofmeisie) en Corné Jonck (hoofseun). Foto: Christine Schoeman

DIE hoofleiers van twee skole op Oudts­hoorn, die Hoër­skool Oudtshoorn en Lang­enhoven Gimnasium, het on­langs hande gevat en die Love Oudtshoorn-projek geloods om nie-bederfbare kos in te samel en aan mense in nood in Oudts­hoorn te skenk.

“Beide Langenhoven Gimnasium en Hoërskool Oudtshoorn se hoofleiers het besef dat daar ’n groot behoefte in die gemeenskap aan veral kos is,” sê Corné Jonck, hoofseun van Gimnasium.

Hy sê hulle het terselfdertyd besef dat dit meer mense sal bereik en ’n groter impak sal hê as die twee skole dit saam aanpak.

Gunter Meyer, hoofseun van die Hoërskool Oudtshoorn, sê hulle glo hier­die is ’n belangrike projek waardeur die skole kan saamwerk.

“Dit is belangrik om eenheid te promoveer waar ons as gemeenskap kan saamstaan,” sê Maryke Botha, bemarker van die Hoërskool Oudtshoorn.
Die leerders maak die kospakkies op wat aan verskeie behoeftige instansies en gesinne in Oudts-hoorn uitgedeel word.

Die skole het vandeesweek ’n beroep gedoen op inwoners om by hul projek betrokke te raak met die skenking van nie-bederfbare kos.

Produkte soos kookolie, pakkies en blikke sop, pasta, blikkieskos, droë mie­lies, lensies en rys kan in die gemerkte bokse by verskeie ­supermarkte op die dorp geplaas word – by Pick n Pay, Checkers, Fruit en Veg, Spar en Wes-Handelshuis.

Vir verdere navrae, kontak Corné Jonck by ­076 766 6761 of Gunter Meyer by 076 650 9556. (Deur Christine Schoeman)