’N SLAAGPERSENTASIE van 98,14% in een van die armste gemeenskappe in die Wes-Kaap!
Dit is die matriekprestasie waarmee die De Rust Sekondêre Skool na afloop van die 2019-matriekeksamen spog.
Die skool bedien De Rust asook die gemeenskappe op die plase rondom die dorp, insluitend Klaarstroom, Vlakteplaas, Middelplaas, Oude Muragie tot sovêr as Snyberg wat sowat 35 km van die skool af geleë is.
Volgens die prinsipaal van die skool, Graham Herold, is die gemeenskap van die woonbuurt Blomnek in De Rust volgens die welvaartsindeks een van die armste gemeenskappe in die Wes-Kaap.
Maar die matrieks aan die skool kruip nie weg agter hul omstandighede nie.
Die skool se topleerder, Crystal Booysen van Blomnek, spog met ’n gemiddeld van 75,7% met drie A-simbole in Afrikaans huistaal, besigheidstudies en geskiedenis. Sy gaan vanjaar aan die Universiteit van die Vrystaat B Com studeer.
Die tweede beste leerder is Delano Abrahams wat op Vlakteplaas, sowat 20 km buite De Rust, grootgeword het. Hy het ’n gemiddeld van 72,9% behaal, ook met drie A-simbole in Afrikaans huistaal, Engels en geskiedenis. Hy gaan LLB aan die Noordwes-Universiteit studeer.
Volgens Herold het die skool 100%-slaagsyfers behaal in ses vakke: Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, rekeningkunde, geskiedenis, toerisme en lewensoriëntering.
“Dit is alles te danke aan uitstekende samewerking tussen ouers, opvoeders en leerders. As spesiale maatreël tydens die eksamen is ’n groep leerders wat ekstra hulp nodig gehad het weens omstandighede buite hulle beheer, in ’n woonstel van die skool gehuisves waar hulle gemoniteer en bygestaan is.
“Opvoeders was bereid om middae ná skool, Saterdae, sowel as vakansietye hul tyd in te boet om ekstra klasse aan te bied, swakker leerders te tutor, en toesig te hou tydens studieklasse.”
De Rust Sekondêr is ’n klein hoërskool met net onder 500 leerders, en het 14 onderwysers, die prinsipaal ingesluit. Byna al die onderwysers gee onderrig in al die grade, dit wil sê van graad 8 tot 12.
“Hoewel dit ’n swaar las is, dra dit daartoe by dat opvoeders reeds van graad 10 af leerders vir die finale eksamen aan die einde van graad 12 kan voorberei,” sê Herold.
“Hegte verhoudings van wedersydse respek en vertroue word geskep, en dit speel ’n belangrike rol in die lewens van veral die leerders wat in huise grootword sonder ’n vaderfiguur. Die skool is toegewyd tot waardegedrewe opvoeding, en poog om ’n veilige omgewing te skep waarbinne leerders hul volle potensiaal kan bereik.”
3 Comments on "Skitterprestasie in een van die armste gemeenskappe"
Comments are closed.
BAie geluk, meneer Herhold en jou span. Ons glo daardie jong mense het ‘n baie pragtige toekoms.
Greatful that you placed this article, seeing that Crystal is my niece. Super proud of her. And I’m also proud that I’m part of this community.
I’m just not happy with the fact that you lable De Rust as a poor community. Do you ever know what a poor community is??
Please get your facts straight guys. I’ll appreciate it.
What about maths no maths no future