Kuierbuurt-winskoop vir Oudtshoorniete

DAAR wag ’n groot winskoop vir inwoners van die Groter Oudtshoorn met ’n KKNK-Kuier­buurtkaartjie wat tussen 27 en 31 Januarie vir net R200 per persoon te koop sal wees!

Die weekkaartjie se gewone prys is R330 per persoon, terwyl dagkaartjies se prys wissel tussen R80 (24 en 25 Maart), R90 (26 tot 28 Maart) en R50 (29 Maart).

Dié spesiale promosie geld vir inwoners van Oudtshoorn en sluit alle konserte, musiek en markte in wat deur die week van die fees in die Kuierbuurt aangebied word, soos die opelugkonserte op die Rec.

Hieronder tel onder meer ’n konsert met die Ndlovu Youth Choir wat verlede jaar die harte op America’s Got Talent gesteel het (Donderdagaand 26 Maart) terwyl Kaktus op die Vlaktes herleef op die Vrydagaand (27 Maart).

Ander buitelugkonserte waarby onder meer Huisgenoot en kykNET betrokke is, word tans nog gefinaliseer. Die fees sal met ’n middagkonsert afgesluit word.

Ook in die Kuierbuurt is Speelbos vir die kinders, Liplekker waar jy wyn kan proe en kan smul aan deli-produkte, kroeë, rusareas, die Castle-verhoog en die markte wat vanjaar ook demonstrasies sal insluit.

Die spesiale Kuierbuurt-kaartjie is slegs by Kunste Onbeperk se kantoor in Die Neelsie (by Arbeidsgenot) in Jan van Riebeeckweg beskikbaar.

Inwoners moet ’n bewys van hul woonadres kan toon om die Kuierbuurtkaartjie te kan koop.

• Die KKNK vind vanjaar van Maandag 23 tot Sondag 29 Maart plaas. Dit val binne die skoolvakansie. (Deur Liesel le Roux)