DIE merkwaardige meester Ampie (Adam) Wicomb van Sesdelaan, Colridge View, oudste lid van die Wicomb-familie, het op 20 Desember verlede jaar sy 99ste verjaardag saam met sy kinders, klein- en agterkleinkinders asook familie en vriende gevier.
Dié oud-skoolhoof het in 1981 ná ’n loopbaan van 37 jaar in die onderwys afgetree en geniet steeds goeie gesondheid.
Hy is ’n boorling van Matjiesrivier en was een van die eerste leerlinge van die Hoërskool Môrester op Oudtshoorn.
Hy het sy onderwysloopbaan op Ladismith begin en was van 1967 tot sy aftrede in 1981 hoof van die Vlakteplaas UCC Primêre Skool.
Vier van sy eerste leerlinge, Florence de Laan (87), Appollis Gertzen (81), Sarah Kock (80) en Nellie Leonards (74), wat destyds op Hottomskloof buite Oudtshoorn by hom op skool was, het ook die partytjie bygewoon.
Gertzen het vertel dat hulle destyds self die kweperlatte moes gaan sny het waarmee hulle by meester Ampie pakslae gekry het.
Hy het hom bedank vir alles wat hy hulle geleer het, insluitend om ander mense te respekteer.
Meester Ampie het vir baie jare op kerkrade van die Congregational Kerk gedien en is tans ere-diaken by die Weyers Memorial United Congregational Kerk. (Deur Garnett Wicomb)