Opwindende klubhuis vir Laerskool Wesbank

Klubhuis se fondasie. Links Stephan Roeloffze (voorsitter van die beheerliggaam) en Waldo Cloe­te (skoolhoof). Foto: Verskaf

’N VIER jaar lange droom vir Laerskool Wesbank, Oudtshoorn, is uiteindelik ’n stappie nader aan die werk­- likheid.

Skoolhoof Waldo Cloete en Stephan Roeloffze, voorsitter van die beheerliggaam, het daadwerklik skouer aan die graaf gesit en die eerste twee grawe vol grond geskep vir die fondament van die skool se nuwe klubhuis en ablusie­geriewe.

Die ablusiegeriewe sal veral besoe­kende sportspanne bedien, maar ook leerders en nasorg-leerders sal dit benut.

“Die boonste vlak sal as ’n klubhuis ingerig word, maar ook ’n tuiste wees vir ons terapeute en ander klein groe­pe,” sê Cloete.

Die gebou is so ontwerp dat daar ’n houtdek reg rondom die boonste vlak sal wees sodat alle sport op die veld, tennis- en netbalbane gemaklik gekyk kan word.

Volgens Cloete is die opwinding groot om hierdie geriewe te begin benut en weet hy dat die leerders van die skool sal baat vind by die gebou en beslis daarop trots sal wees. (Deur Angelique Erasmus)