DE RUST se Meiringspoort-halfmarathon wat Saterdag plaasvind, is ’n wedloop waar drome waar kan word.
Praat maar met drawwers. Die meeste droom van daardie één vinnige tyd oor ’n spesifieke afstand.
Die dag wat dit gebeur is soos ’n persoonlike oorwinning, want droomtye gebeur nie net sommer nie. Jy moet vinnig hardloop. Teen die einde raak dit ’n stryd tussen die kop en die lyf.
Dit is waarom dié 21 km-wedloop wat Saterdag plaasvind, ’n groot gunsteling onder baie drawwers is. Die roete word as een van die vinnigstes in Suid-Afrika beskou, ’n wedloop waar vasbyters beloon word.
Dit is nie sommer net praatjies nie. Die stelling dat dit ’n vinnige roete is, is deur die “Comrades-koning”, Bruce Fordyce gemaak. En hy sal weet!
Fordyce het wel ’n waarskuwing vir atlete. Hy praat van ’n “byt” oor die laaste kilometer of so. In ’n Engelsetalige Sondagkoerant het hy die wedloop as ’n “avontuur” beskryf en was hy vol lof vir die De Rusters se gasvryheid.
Fordyce is nie verkeerd nie. Mei-ringspoort is een van Suid-Afrika se natuurwonders. Enigeen wat al dié poort te voet aangedurf het, sal dit beaam.
Daar is soveel geskiedenis. Jy hoef maar net die name van elke drif te lees. Elkeen het sy eie storie.
Daar is altesaam 25. Spookdrif, Herrie se drif, die Witperd of Rabbi, Steweldrif, Skelmwaterval…
Dit was CJ Langenhoven wat die naam Herrie op ’n rots in die poort uitgebeitel het. Herrie was natuurlik die olifant in van sy stories.
Daar is diegene wat beweer dat dit Meiringspoort was wat Langenhoven geïnspireer het om die frase “waar die kranse antwoord gee” in die voormalige volkslied neer te pen. Gaan roep maar in die Poort. Die kranse sal antwoord.
Die Poort het ook sy legende van ’n meermin wat mense lok na die poel onder ’n waterval. Khoisan-inwoners het dié storie al in 1875 aan boere vertel.
Plantliefhebbers kan uitkyk vir Pelargonium Zonale – die wildemalva. Dié plant is endemies aan die poort. Volgens geskiedkundiges het Heinrich Bernhard Oldenland van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie in 1689 sade daarvan na Europa geneem waar talle nuwe variëteite daarvan gekweek is.
En die ontstaan van die Meiringspoort-halfmarathon? Dit was die idee van ’n paar vroue van De Rust, almal ywerige drawwers. Volgens Elbe Schoeman was haar skoonsuster, Paula, die eerste een wat hardop gewonder het of hulle nie deur die Poort moet hardloop nie. Dié gedagte het ’n werklikheid geword en in 1993 het 310 atlete die eerste keer daar weggespring.
Die res is, soos daar gesê word, geskiedenis. (Deur Wilhelm de Swardt)
Meiringspoort: ’n wedloop waar drome waar kan word
