Dié Glory of Paris-roos blom weer na vier jaar!

Die Glory of Paris-roos, ook bekend as die Anna de Diesbach-roos. Foto: Angelique Erasmus

OUDTSHOORN spog met sy eie konink­like roos, wat volgens vertellings jare gelede as steggie na Oudtshoorn gebring is uit die tuin van die paleis van Versailles in Frankryk.

Hierdie pragtige rankroos, met sy sterk pienkpers blomblare, het ’n hemelse soet geur, en ruik jy dit, kan jy nie help om meegevoer te word na ’n koninklike era nie!

Dié geur laat jou inderdaad dink aan baldanse in die paleis, met klassieke musiek, kristalglas en die weelderigste klere uit duur satyn en kant.

Die roos in Oudtshoorn het eens in die tuin van me Bowles in St Saviourstraat gepronk as deel van ’n heining van agt meter tussen twee simplekshuise.

Dié roos het so goed gevaar en gegroei in Oudts­hoorn dat dit later ook die agterkant van die eiendom toegerank het, en so nog ’n pragtige heining in die erf geskep het.

Met die verkoop van die eiendom in omstreeks 2018, is die roosheining uitgekap en ’n betonmuur in sy plek opgerig.

Gelukkig het die eienaar wat die eiendom verkoop het, Marthella van Dyk, steggies daarvan gemaak en oorgeplant in potte.

“Hierdie is die eerste keer in vier jaar wat die roos weer begin blom het vandat dit oorgeplant is,” sê Van Dyk.

Sy het ook twee steggies vir ander mense gegee, maar is onseker of hulle al intussen geblom het.

Volgens die boek The World of Roses deur Sonni Bonei wat in 1990 gepubliseer is, word die roos sowat 1,5 m hoog, met ’n blom van 7 cm in deursnee.

Die besonderse roos wat bekend ge­staan het as die Glory of Paris, is deur Anna de Diesbach van Frankryk ge­kweek.

In 1859 is die roos na haar vernoem deur François Lacharme.

Lacharme was een van die bekendste en belangrikste rooskwekers van die 19de eeu.

’n Navraag oor die roos is aan die Château de Versailles gestuur, wat laat weet het dat hulle aandag skenk aan die navraag. (Deur Angelique Erasmus)