Verkeersamptenare in die kantoor
Die klagtes oor die euwels en wanorde by die hokkies op Oudtshoorn wat bedoel is vir taxi-passasiers om op en af te klim, word nou vervelig omdat niemand daarna luister of iets daaraan doen nie.
As ons verkeerskonstabels meer sigbaar is op die taxi’s se roetes en toesien dat hulle die passasiers nie op ander plekke op- en aflaai nie, maar wel by hierdie hokkies, is die probleem opgelos.
Dit maak egter nie sin dat verkeersamptenare in die kantoor sit nie. Om wat te doen?
Wie gebruik die baie verkeersmotors waarmee die hoof van verkeer onlangs in koerante gespog het?
– Bekommerd, Oudtshoorn
Reaksie van Verkeersdepartement
Pat Jordaan, Verkeersdepartement: bestuurder Beskermingsdienste, reageer as volg op bostaande brief: Daar word kennis geneem van die klagte en daar sal aandag daaraan geskenk word. Dit sal ook onder die aandag van die taxi-eienaars gebring word.
Fantasties, Laerskool Wesbank!
Aangesien ons al vir baie jare ’n verbintenis het met Laerskool Wesbank omdat ons drie kinders en nou ook ons twee kleinseuns daar skoolgaan, het ons besluit om gistermiddag die voorvertoning van The Greatest Show, wat hulle aanbied, te gaan kyk.
Die resultaat: Fantasties!
Baie geluk aan die skoolhoof, sy personeel en almal wat dit help moontlik maak het. Om so baie kinders in so baie items te laat deelneem, wil gedoen wees!
Dit was met een woord “ongelooflik”.
– Mona Brittnell, Oudtshoorn
Genoeg is genoeg
As ek ’n koerant lees en selfs op televisienuus kyk, hoor ek van verkragting, moord, verwaarlosing van ons vroue en kinders.
Naweke laatnag sit ons kinders onder brûe, verlate geboue tussen geharde misdadigers. Waar is ons ouers? Weet hulle waar hul minderjarige kinders is?
Gaan kyk hoe lyk dit by enige buiteverbruik-drankwinkel op ’n Sondagoggend…
Ons gaan elke week die strate invaar met plakkate wat sê: Genoeg is genoeg … dit sal nooit stop nie…
Ons as ouers sal eers orde in ons huise moet herstel; dan glo ek sal ons met die wil van Bo, orde in die land hê.
– Danie Maart, Oudtshoorn