
Jacobus King… “sal elke dag gholf speel as ek kan”.
AS hy ’n hoogtepunt in sy skoolloopbaan moet uitsonder, is dit dat hy hoofseun van die Hoërskool Oudts-hoorn was, sê Jacobus King, die Struisies se toppresteerder in 2016 se skooleindeksamen met ’n gemiddel-de persentasie van 91,4%.
“Om hoofseun te wees, was vir my ’n groot eer en ’n verrykende ervaring. Ek het geleer om verantwoordelikheid te dra en ook om te organiseer.”
Jacobus het vir vyf vakke meer as 90% gekry – wiskunde (97%), fisiese wetenskappe (96%), rekeningkunde (94%), ingenieursgrafika en ontwerp (92%) en rekenaartoepassingstegnologie (90%). Die ander vakke waarin hy A’s gekry het, is Afrikaans, Engels (add taal) en lewensoriëntering.
Jacobus, seun van James en Christelle King, skryf sy goeie uitslae toe aan deurlopende harde werk deur sy hele skoolloopbaan. “Goeie, passievolle onderwysers het ook ’n groot bydrae gelewer, en my ouers het my altyd bygestaan,” sê hy.
Hy begin vanjaar bedryfsingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Hy sê hy wil graag eendag sy eie ingenieursmaatskappy begin of hom opwerk tot die hoof- uitvoerende beampte van ’n groot ingenieursfirma.
Op ’n persoonlike noot sê Jacobus: “Goeie menseverhoudings en ’n goeie verhouding met die Here is vir my belangrik. Ek wil ook in alles wat ek doen my beste lewer.”
Jacobus is ’n geesdrigtige sportman en het in hokkie, tennis en gholf die Struisies se eerste spanne gehaal. Hy sonder egter gholf uit. “Ek sal elke dag speel as ek kan!”
Hy luister nie net graag musiek nie, maar speel ook kitaar en klavier en was deel van sy kerk se orkes. Dit was vir hom baie lekker en ’n eer om ’n lid van die Hoërskool Oudtshoorn se bekende Ad Astra-koor te wees.
Oor Suid-Afrika se toekoms sê Jacobus mense is te negatief daaroor. “Die jeug gaan nog ’n groot rol speel om Suid-Afrika te verbeter. Ek wil graag eendag in Suid-Afrika werk en woon en ’n bydrae tot vooruitgang lewer,” sê hy.
• Jacobus se suster, Susan was in 2013 die Struisies se hoofmeisie en die skool se top-matrikulant.
Sy ouer broer, Fred, was in 2010 die gewese privaatskool Principia se hoofseun en in matriek sy skool se naasbeste presteerder.