Lekkerste malvapoeding van hier!

Cynthia Landman van Oudts-hoorn wys haar wenresep wat in die tydskrif Vrouekeur verskyn het.

Cynthia Landman van Oudts-hoorn wys haar wenresep wat in die tydskrif Vrouekeur verskyn het.

’N OUDTSHOORNIET is die wenner van ’n kompetisie waarin gesoek is na die beste malvapoedingresep in die land.

Cynthia Landman van Millenniumpark op Oudtshoorn het ’n prys van R5000 losgeslaan met haar watertandresep wat onder meer amandelmeel, appelkoossap, brandewyn en hanepootwyn bevat!

Die kompetisie van die tydskrif Vrouekeur het gevra vir die resep vir die “moeder van alle malva-poedings”. Dit kon ’n familieresep wees of ’n unieke variasie met deelnemers wat aangemoedig is om “uit die boks” te dink.

Sy het besluit om ’n unieke variasie in te skryf, sê Landman. Die wenner van Koekedoor 2015, Mareli Visser, en nog ’n Koekedoor-deelnemer, Valerie Slabbert, was die beoordelaars.

Landman, wat sowat twee jaar gelede saam met haar man, Johan, van Hermanus af na Oudtshoorn verhuis het, is ’n veelsydige vrou met grade in dra­ma en die regte asook ’n honneursgraad in Afri­kaans. Sy is duidelik iemand wat “uit die boks” kan dink. Voor hul blyplek wys ’n lieflike aalwyntuin haar groen vingers en in haar kombuis staan rye bottels spogkonfyt wat sy kook en verkoop.

Hier is Landman se heerlike resep vir ’n Appelkoos en Amandel-malvapoeding (10 porsies).

Beslag:
30 ml (2 e) gesmelte botter
250 ml (1 k) suiker
60 ml (¼ k) appelkooskonfyt
2 groot eiers
5 ml (1 t) vanielje
1,25 ml (¼ t) amandelgeursel
375 ml (1½ k) koekmeel
7,5 ml (1½ t) bakpoeier
7,5 ml (1½ t) koeksoda
1,25 ml (¼ t) sout
250 ml (1 k) amandelmeel
500 ml (2 k) appelkoossap
10 ml (2 t) witasyn
Sous:
185 ml (¾ k) botter
185 ml (¾ k) suiker
310 ml (1¼ k) appelkoossap
5 ml (1 t) vanielje
60 ml (¼ k) brandewyn
125 ml (½ k) hanepootwyn

Metode:
• Verhit oond tot 180 °C en berei oondbak voor deur dit met botter te smeer.
• Beslag: Meng botter, suiker, appelkooskonfyt, eiers, vanielje en amandelgeursel tot glad.
• Sif meel, bakpoeier, koeksoda, en sout saam en voeg amandelmeel by.
• Voeg meelmengsel by eiermengsel en roer appelkoossap by. Meng tot glad.
• Gooi asyn by en meng deur.
• Skep deeg in oondbak en bak vir 30 minute tot goudbruin en gaar.
• Sous: Verhit botter, suiker, appelkoossap, va­nielje, brandewyn, en hanepoot op stoofplaat. Roer tot al die suiker opgelos is en kook stadig vir ’n paar minute.
• Prik poeding wanneer dit klaar gebak het en gooi kokende sous bo-oor. Laat staan vir 20 minute om in te trek.
• Bedien met vla of roomys.