
Opgewonde leerders van Bridgton Sekondêr verlede Donderdag nadat hulle hul matriekuitslae ontvang het.
DAAR was verlede Donderdag baie glimlagte in die Klein Karoo, met verskeie skoolhoofde wat hul tevredenheid met die matriekuitslae van 2016 te kenne gegee het. Ook in skole in armer gemeenskappe het leerders goed presteer.
By die Hoërskool De Rust lyk die matriekuitslae baie goed. Die skool het ’n 98%-slaagsyfer behaal en een A-kandidaat, Luciano Adams, wat met 82,9% geslaag en vyf A’s behaal het.
Die hoof, Jan van der Ross, sê die hele skoolgemeenskap is baie opgewonde oor vanjaar se uitslae. “Dit het baie harde weerk geverg, maar die skool het ’n passievolle span wat bereid is om die ekstra myl te loop.
“Baie geluk aan die klas van 2016 en hul ouers. Ons streef in ’n arm gemeenskap na ’n 100 %-slaagsyfer, want ons wil ons gemeenskap inkleur met goed toegeruste en bemagtigde kinders. Hulle is immers die volwassenes van die toekoms. Ons is in die wolke, want ons probeer moeilike omstandighede oorwin.”
Kelvin Ellis, hoof van Bridgton Sekondêr, sê hy en sy personeel en die matrieks is tevrede, verheug en opgewonde.
Die skool se slaagpersentasie was 89,4% met Nelgim Jacobs die toppresteerder wat met ’n gemiddelde persentasie van 80,1 % geslaag het.
Jacobus Francis, hoof van die Hoërskool Môrester, is tevrede met die skool se slaagsyfer van 91,1%. “Ek is trots op ons leerders. Dit is ons teiken om ons slaagsyfer konsekwent bokant 90% te hou.” Hy het sy personeel geprys wat “agteroor gebuig het om leerders te bemoedig.”
In Ladismith het Sammy Elie, skoolhoof van die Hoërskool Ladismith, rede gehad om trots te wees. Die skool spog met ’n 100%-slaagsyfer en twee leerders met A-gemiddeldes. Die toppresteerder is Marcel Simpson met sewe A’s en ’n gemiddeld van 89%, terwyl Alicia Lourens ’n gemiddeld van 82% en ses A’s behaal het.
Garnett Wicomb berig dat hoewel die slaagsyfer van die Hoërskool Fezekile 84,4% is teenoor die 91,2% van 2015, is die waarnemende skoolhoof, me Thembeka Mnguni Mabongo, heel tevrede. “Dit is ’n goeie kwaliteit uitslag,” sê Mabongo. “Altesaam 17 kandidate het met universiteitstoelating geslaag en 28 kan vir ’n diploma gaan studeer.”
Michael Titus (71,5%) en Stwayi Lifa (69,2%) is die skool se twee toppresteerders.
Op Prins Albert was daar egter teleurstelling oor die uitslae. Marlene Malan berig dat die opgewondenheid van die matrieks van die Hoërskool Zwartberg voordat hul uitslae uitgedeel is, gou plek gemaak het vir groot teleurstelling.
Altesame 11 matrieks uit die 39 het nie die eindeksamen geslaag nie – teenoor net een druipeling uit 60 leerders einde 2015. Die slaagsyfer van 2016 was 69,3% teenoor 98,3% die vorige jaar. Cornell Bezuidenhout het die hoogste gemiddelde (75,6%) behaal.