Leah-Zanne oortref haar eie verwagtinge

Leah-Zanne Barnard met haar gunsteling-skrywer se boeke.

Leah-Zanne Barnard met haar gunsteling-skrywer se boeke.

HAAR matriekafskeid verlede jaar was die hoogtepunt in haar hoërskoolloop, sê die vriendelike Leah-Zanne Barnard, wat die Hoërskool Oudtshoorn se naasbeste presteerder in verlede jaar se matriek-eindaksamen was.

“Almal het baie, baie mooi gelyk en almal was só vriendelik. Dit was die perfekte aand!” sê sy
Leah-Zanne het ’n gemiddelde punt van 89,1% en sewe A’s behaal. Sy het onderskeidings in Afrikaans (huistaal), Engels (huistaal), lewensoriëntering, ontwerp, georgrafie, rekenaartoepassingstegnologie en lewenswetenskappe. Haar agtste vak is wiskunde waarvoor sy 68% behaal het.

Hoewel sy haar hoogste punt in ontwerp behaal het, naamlik 98%, was lewenswetenskappe haar gunstelingvak, sê sy.

Leah-Zanne skryf haar goeie uitslae aan harde werk toe en die ondersteuning van haar familie en vriende. “Genoeg slaap, het ook baie gehelp,” voeg sy by.

Sy sê haar uitslae was vir haar ’n groot verrassing. “Ek het nie verwag dat my gemiddelde punt so hoog so wees nie en ook nie dat ek die tweede hoogste punte sou behaal nie. Dit is twaalf jaar se harde werk wat vrugte afge­werp het,” vertel sy.

Leah-Zanne gaan vanjaar BA Regte aan Maties studeer. “Ek wil graag die hoogste kwalifikasie in die regte behaal wat ek kan en hoop om ’n lektor te word.

Leah-Zanne, dogter van Ena Barnard en JC Barnard, sê vir haar was dit belangrik op skool om nie net hard te werk nie, maar ook om te groei “en die beste mens te wees wat ek kan wees. Ek wil graag ander mense help en iets vir hulle beteken.” Sy vertel van ’n projek op hulle plaas waar sy klere ingesamel het vir behoeftige kinders.

In haar vrye tyd hou Leah-Zanne van lees en het haar eerste boek op 5 jaar gelees. “Ek geniet dit ook om saam met familie en vriende te kuier. Ek het op die plaas grootgeword en is baie lief vir diere. Ek het baie hanslammers grootgemaak. Ons het ook vyf honde en ’n kat,” sê sy met ’n glimlag.

Op die vraag oor hoe sy oor haar land se toekoms voel, sê Leah-Zanne sy is baie positief. “As ek na ons matriekuitslae kyk en hoe baie van ons universiteitstoela­ting gekry het asook na al my skoolmaats se ambisies, moet ek positief wees!”