Laurus kry Eko-Skolevlag!

Voor van links is Dehan de Kock (hoofseun), Ingrid Stander (hoofmeisie), Zoë de Jager en Pieter Steenkamp, en agter van links Susan Botha (CapeNature) en Ronelle Huysamen (skoolhoof).  Foto verskaf

Voor van links is Dehan de Kock (hoofseun), Ingrid Stander (hoofmeisie), Zoë de Jager en Pieter Steenkamp, en agter van links Susan Botha (CapeNature) en Ronelle Huysamen (skoolhoof). Foto verskaf

“LAERSKOOL LAURUS is flink besig om die toonbeeld van ’n gesonde eko-skool te word.”
So sê Susan Botha, wat omgewingsopvoedings-aksies vir CapeNature in die Karoo en Tuinroete koördineer. Sy het onlangs die Eko-Skole Groen Vlag aan Laurus oorhandig nadat hulle derde Eko-Skoleportefeulje1 geassesseer is en hulle met onderskeiding geslaag het.

“Ons is baie trots om deel te wees van hierdie internasionale Eko-Skole-inisiatief, wat deur die Natuurlewe en Omgewingsvereniging van Suid-Afrika (WESSA) geïmplimenteer word,” sê Ro­nelle Huysamen, dinamiese skoolhoof van dié positiewe skool. “Ons het die afgelope paar jaar baie hard gewerk om ’n liefde vir die natuur by ons leerders tuis te bring, en ons skoolterrein spog met heelwat praktiese voorbeel­de van hoe ons die omgewing integreer met die skoolkurrikulum,” vertel sy.

Die Eko-Skoleprogram is so ontwerp dat dit skole help met omgewingsbestuur op die skoolterrein, én dit is ten volle belyn met die nasionale kurrikulum- en assessingssbeleidsverklaring (“CAPS” soos die meeste ouers dit ken).

Vyf temas vorm deel van die program, en Eko-Skole-deelnemers kies in die eerste ronde slegs een van die temas waaraan hulle werk en waaroor hulle verslag doen in ’n eko-portefeulje. Ná die eerste jaar ontvang die skool ’n brons sertifikaat. In die tweede jaar voeg die skool ’n tweede tema by die eerste tema, en dan moet hul eko-portefeuljewerk oor albei temas reflekteer sodat hulle ’n silwer sertifikaat kan verwerf.

In die derde jaar word ’n derde tema bygevoeg vir ’n groen vlag, in die vierde jaar verwerf die skool ’n goue sertifikaat en in die vyfde jaar kan die skool ’n internasionale groen vlag verdien.
“Laerskool Laurus het reeds die temas oor Natuur en biodiversiteit, Hulpbrongebruik en Gesonde leefstyl kafgedraf,” sê Botha. “Nou lê Gemeenskap en erfenis asook Plaaslike en internasionale kwessies nog voor.”