
Van die kinders en ander inwoners van Riemvasmaak Saterdag nadat hul die omgewing skoongemaak het..
Foto: Ilze-Mari Gründling
Deur Liesel le Roux
en Ilze-Mari Gründling
TUSSEN 50 en 60 inwoners van Oudtshoorn – hoofsaaklik kinders van die Riemvasmaak-omgewing – het Saterdagoggend ’n berg swartsakke vol vullis opgetel by die dorpsingang vanaf De Rust.
Die skoonmaakprojek is geïnisieer deur Deon (Bossie) Bosman, ’n sakeman van Oudtshoorn wat ontsteld was toe hy gesien het hoeveel rommel by die ingang vanaf De Rust rondlê.
Die woonbuurt Riemvasmaak is by dié ingang geleë.
Bosman het sy kommer op ’n Facebookblad, Oudtshoorniete staan saam, uitgespreek en inwoners aangemoedig om nie net te kla nie, maar self in te spring en ’n verskil te maak.
Twee ander Oudtshoorniete, Cedric Geduld en Llewelyn Tiemie, was dadelik geesdriftig om betrokke te raak.
Geduld het met die munisipaliteit gereël vir ’n klomp swartsakke en hy en Tiemie het kinders van die Riemvasmaak-omgewing gevra of hulle nie wil kom help om hul omgewing skoon te maak nie.
Saterdagoggend kort na 08:00 het die skoonmakery begin met opgewonde motoriste wat Die Hoorn laat weet het hulle sien die dorp se ingang word skoongemaak deur ’n groot groep kinders.
So geesdriftig is meegedoen dat die swartsakke opgeraak het!
Geduld sê dit was vir hulle belangrik om die gemeenskap betrokke te kry en so bewus te maak van hul omgewing sodat hulle ’n trots daarin kan ontwikkel.
Bosman sê hulle sal dié skoonmakery ’n gereelde instelling wil maak.
“Volgende Saterdag maak ons weer so. Dankie Cedric en Tiemie vir die koördinering, dankie vir almal wat deelgeneem het!”