Droogte knou Klein Karoo-boere toenemend

Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo.

Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo.

DIE droogte in onder meer die Klein Karoo is besig om toenemend ’n negatiewe impak op boerderybedrywighede te hê, sê Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo wat op die plaas Welbedacht wes van Oudtshoorn boer.

Hy sê sedert 1996 se vloed was die Olifantsri­vier, wat by sy plaas verbyloop, nog nie so droog gesien soos wat dit nou is nie. “Dit was 20 jaar gelede, van 1987 tot 1991, so droog.”

Hy sê hy het nou die dag gehoor Meiringspoort het laas in 1991 so min water as nou gehad.
Volgens Potgieter is die Stompdriftdam en die Kammanassiedam só leeg dat daar geen besproeiingsbeurte oor is nie.

“Die droogte plaas groot druk op die kontantvloei van boere wat met kontantgewasse soos lusern boer aangesien hulle nie lusernhooi het om te verkoop nie. Boere wat hul eie lusernhooi en ander voer produseer vir hul volstruise is nou ook genoodsaak om voer aan te koop,” sê hy.
“Die droogte plaas ook hernieude druk op boere om skaars bronne soos water doeltreffend te bestuur en te benut en om vooruit te beplan.

“In droogtetye raak dit ook vir landbouers soms moeilik om hul arbeidsmag doeltreffend te benut en raak volstruisboerdery meer marginaal, maw die winsgrense raak minder en vaste bedryfsuitgawes verlaag nie.”

Volgens Potgieter moet volstruisprodusente nou ook al meer voer, veral ruvoer, vir hul volstruise aankoop omdat daar minder kos in die veld is weens die droogte.

Saadboere wat nie genoeg waterbronne het nie, begin ook nou swaar kry. Daar is egter saadboere met damme en bolope van riviere op hul plase wat nog water het.

Potgieter sê wildboere moet nou ook begin om voer uit te sit omdat die veld so droog is. As ’n wildplaas egter goed bestuur en nie oorbewei word nie, is die impak van die droogte minder.

Hoewel die veegetalle in die Klein Karoo minder gemaak moes word, is daar wel goeie nuus vir skaapboere. “Danksy die reën in die binneland nadat dit lank droog was, koop boere daar nou baie skape aan en laat dit die prys vir skaap styg,” het Potgieter gesê.