Redakteursbrief: Dankie tog, mense lees nog!

Daar word gesê mense lees al minder en minder. TV en selfone steel deesdae ongelukkig baie van ons lees- en kuiertyd. Boonop leef ons in ’n kitstyd waarin mense maklik as’t ware verslaaf raak aan sosiale media en die meeste van hul vryetyd daarop spandeer.

Daarom is dit so lekker om soggens net voor oopmaaktyd by die CJ Langen­hoven Gedenkbiblioteek op

Oudts­­­hoorn verby te ry en te sien hoe mense – party met ’n pak boeke in die arms of ’n sak vol boeke in die hand – voor die deure wag vir die biblioteek om oop te maak. Dit gebeur glo ook by die ander biblioteke op Oudts­hoorn. Dankie tog, mense lees nog.

Die afgelope Saterdagoggend het dié biblioteek ook vol gesit met mense wat onder meer koerante en tydskrifte daar gaan lees.

Gelukkig is diegene wat weet hoe­veel inligting jy kan kry deur te lees.

Gelukkig is diegene wat weet hoe ’n boek jou verbeelding op loop kan sit en jou ’n wêreld kan laat verbeel wat jy nie geweet het bestaan nie.

Die skrywer Johan Bakkes sê dat hy graag wanneer hy op ’n dorp kom, die plaaslike biblioteek besoek, omdat dit hom baie van ’n dorp vertel.

In 1941 het ene W Charters die volgende in ’n navorsingstuk geskryf oor die waarde van lees: Reading is man’s most potent skill. Without it his world is circumscribed by his neighbours. All he learns is what he picks up in conversations, information garbled in its transmission, delayed by the slow seepage of news through word of mouth… the world of newspapers, books, magazines and bulletins is closed against him by the massive walls of ignorance. Reading is the keystone of the arch of intelligence.
Sy woorde is in 2017 nog net so geldig.