LANGENHOVEN GIMNASIUM op Oudtshoorn spog met die feit dat ses van hul landloop-atlete vanjaar as deel van die SWD-span na Rustenburg in die Noord-Wes sal gaan om hul skool, dorp en streek te verteenwoordig by die SA Landloopkampioenskappe op 17 September.
Die skool se landloop- en atletiekafrigter, Quintin Bester – wat self al heelwat naam gemaak het in die sport, onder meer met dat hy in 2018 as afrigter in die Vrystaat 42 skool-atlete SA’s toe geneem het – sê dat sy atlete ’n baie goeie kans by die kampioenskappe staan.
Volgens Bester het die groep van ses Gimmies op 23 Julie tydens die SWD Kampioenskappe op Riversdal gekwalifiseer om die SWD-span te verteenwoordig deur eerste en tweede plekke in elke item waaraan hulle deelgeneem het, in te palm. “Ons het vier eerste en twee tweede plekke daar behaal. Ons het die meisies o.14-, o.15- en o.16-wedlope oor 4 km, en ook die o.19 seuns-wedloop van 8 km gewen.”.
Boonop is twee van die atlete – William van Tonder en Tyron-Lee Andries – bekende name onder plaaslike Parkunners, met Andries wat die huidige onoorwonne rekordhouer oor die pretdraf se 5 km-afstand is.
Wat die ses atlete se prestasies nog meer uniek maak, is dat vyf uit die groep vir die eerste keer op nasionale vlak gaan deelneem. Andries het in 2021, man-alleen, in Durban gaan deelneem en onder die top 20 geeïndig.
Die res van die span is Amé Pretorius, Elizma Huyser, Ané Bester en Chanele Bester. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Langenhoven Gimnasium se ster-atlete op pad na SA’s
Langenhoven Gimnasium se ster-atlete saam met hul afrigter, Quintin Bester (middel), is van links Amé Pretorius, Elizma Huyser, Ané Bester, Chanele Bester, William van Tonder en Tyron-Lee Andries. Foto: Stefan Skapie Goosen