‘Hok toe’ kry nuwe betekenis

VIR die graad 7’s van Towerkop Primêr in Ladísmith het die uitdrukking “hok toe” nuwe betekenis gekry met leerders in die klaskamer wat deesdae en ook pouses ver van mekaar moet sit.

Volgens mnr Jannie Swart, skoolhoof, het hy en sy senior bestuurspan die twee weke voor die skole op 1 Junie begin het, daagliks tyd by die skool spandeer om die klaskamers volgens voorskrifte in te rig. Hulle het ook die beskermende toerusting van die Wes-Kaapse Omderwysdepartement (WKOD) in ontvangs geneem. Dit het maskers vir leerders sowel as vir opvoeders ingesluit.

Die skool het ’n nuwe rooster – waarna hulle as die “Covid-rooster” verwys – saamgestel omdat klasse verklein is om sosiale distansiëring moontlik te maak.

Swart sê geen plaasvervanger-opvoeders word aangestel nie, omdat opvoeders wat nie by graad 7’s betrokke is nie, daar aangewend sal word.

Opvoeders en nie-doserende personeel sal tydens pouses toesig hou om toe te sien dat maskers nie afgehaal word en groepvorming nie plaasvind nie.
Die kringbestuurder vir die streek, mnr Mias du Plessis, sê alle beskermende maatrëels is by skole toegepas. “Ons is op die goeie en die regte pad.” (Deur Deon Meyer)