Pastoor-saak – 2 in kruisverhoor

GETUIES in die saak teen die Oudtshoornse pastoor Stephanus Olivier is verlede week vir twee agtereenvolgende dae in die Oudtshoorn Streekhof onder kruisverhoor geneem.

Olivier, wat teregstaan op 37 klag­tes van seksuele molestering en verkrag­ting, is in Oktober 2018 in hegtenis geneem. Dié pastoor van die Pinkster Protestante Kerk (PPK) het in Februarie vanjaar onskuldig gepleit op alle klagtes.

Van die beweerde voorvalle het volgens getuienis reeds in 2003 plaasgevind, maar klagtes teen Olivier het eers in 2012 na vore gekom.

Getuies is op 11 en 12 Junie deur Olivier se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, ondervra.

Van der Bergh wou van een getuie – ’n vrou met bande met een van die twee klaers – weet hoekom sy so lank stilgebly het as sy van die vermeende misdrywe geweet het, en hoekom sy die klaer eers nie in 2003 geglo het toe sy daarvan vertel is nie.

“Ek sou nooit kon glo dat hy so iets sou kon doen as hy dit nie self aan my erken het nie. Hy was ’n gesiene man in die gemeenskap, ’n pastoor,” het sy gesê.

Van der Bergh het beklemtoon dat Olivier ont­ken dat hy so iets erken het.
Die aanklaer, Michelle Weyers, het aangedui dat die staat nog twee getuies en ’n deskundige wil roep om in die saak te getuig. Landdros Daniël Boks het die saak tot 12 en 13 Augustus uitgestel. Olivier se borgvoorwaardes is verleng. (Deur Stefan Skapie Goosen)