Maak seker jy is veilig dié winter!

DIT is winter, en op Oudtshoorn neem misdaad gewoonlik toe hierdie tyd van die jaar.

Die Hoorn het vandeesmaand be­rig dat inbrake, veral by besighede, juis skerp toegeneem het.

Volgens ’n betroubare bron is daar ’n 100%-styging in besigheidsinbrake in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar.

Sers Gretchen Michaels, woord­voerder van die Oudtshoorn Polisie, sê veral kruideniersware en drank is tydens Vlak 5 en 4 van die inperking gesteel.

Uit gesprekke met sekuriteitsmaatskappye in Oudtshoorn blyk dit dat drankwinkels, kerke, skole, spazawinkels, store en plase die meeste geteiken is.

Drank en geld was onder die gewildste teikens vir diewe.

Die SAPS se webtuiste gee ’n reeks belangrike veiligheidswenke, veral vir nou in die wintermaande wat mense saans tuis bly en nie buite rondbeweeg nie.

Onder die wenke tel die volgende:

Heinings en hekke
• ’n Hoë heining rondom die huis met hekke wat kan sluit, is baie veiliger as ’n hoë muur.

Die voordeel hiervan is die verbeterde sigbaarheid wat dit bied.

• Sorg dat hekke te alle tye gesluit is en dat die sleutels nie maklik bereik kan word nie.

• Veiligheidshekke met stewige slotte voor elkeen, en diefwering voor vensters wat dit heeltemal bedek, word aanbeveel.

Alarmstelsels
• ’n Alarmstelsel, verkieslik gekoppel aan ’n gewapende reaksie-onderneming, is ’n baie effektiewe afskrikmiddel.

• In landelike omgewings is ’n sirene / alarm op die dak, wat oor ’n lang afstand gehoor kan word en met behulp van ’n skakelaar of paniekknoppie geaktiveer kan word, van groot hulp.

Veiligheidsligte
• Veiligheidsligte aan die buitekant van die huis verbeter die veiligheid van ’n huis, plaas of kleinhoewe.

• Die ligte moet van die huis af wegskyn, en moet die inwoners toelaat om die vensters te gebruik sonder om van buite waargeneem te word.

• Wees bewus van moontlike blinde kolle.

Gruisklippies uitstekende ‘verklikkers’

DIT is bykans on­moont­­lik om nie ’n geluid te maak wanneer hy oor gruisklippies loop nie, en daarom is dit ’n baie goeie ver­klikker wat vir jou kan aandui dat daar iemand buite jou blyplek rondloop.

Ander eenvoudige maartreëls wat mense kan volg om hul blyplekke te beveilig is om alle tuingereedskap bin­ne te bêre en so seker te maak dit kan nie in ’n moontlike inbraak gebruik word nie.

Sluit altyd jou voertuig en parkeer dit verkieslik agter slot en grendel.