Gryp die gholfstokke; die gholfklub is weer oop!

“ALMAL is honger vir gholf,” sê die Oudtshoorn Gholfklub se president, Paul Stroebel, nadat gholfklubs weer Saterdag hul deure kon open.
Saterdag het 62 plaaslike klublede kom speel, en Sondag 58!

“Ons is baie opgewonde dat ons weer ons deure kan oopmaak,” sê Paul. Omdat daar steeds ’n verbod is op groot byeenkomste, sal geborgde gholfdae nog nie kan plaasvind nie. “Gewone klub­- kompetisies op Woensdae en Saterdae sal gehou word, maar sonder prysuitdelings.”

Ander reëls wat geld, is die dra van ’n masker en die handhawing van sosiale afstand. “Ons beveel aan dat mense hul eie handreiniger saambring, hoewel die klub ook sal voorsien. Daar sal ook geen alkohol te koop wees nie.”

Die belangrikste punt om te onthou?
“Maak ’n afspraak voor jy kom speel sodat ons die getalle kan beheer ter wille van almal se veiligheid,” sê Paul.