
Gimmies het die afgelope naweek omtrent gewemel van sportspanne en ondersteuners. Op Vrydag en Saterdag het Gimmies kragte gemeet teen Hoërskool Punt met rugby, hokkie, netbal, gholf, debat, skaak, muurbal en vasvrae.
Die sportvelde was propvol ouers, leerders, ondersteuners, oud-Gimmies en besoekers.
Tydens Vrydag se wedstryd van die seuns se eerste-hokkiespan, was daar ’n bittersoet oomblik met sewe van die spelers wat hul 100ste en laaste hokkiewedstryd saam gespeel het. Hierdie span is vir die eerste keer in die geskiedenis van die skool die ligawenners.
Spesiale truie met elke speler se van op die rugkant, is vir die span gemaak vir hierdie wedstryd. Die sewe spelers is: Roux Delport (kaptein), Christiaan Sover, Ruhann Goetz, Drian Harteveld, Tiaan Janse van Rensburg, Malan Nortier, Marius Griebenow.
Tydens die eerste-netbalspan se wedstryd was daar ’n emosionele oomblik toe drie van die spelers hul 50ste en laaste netbalwedstryd gespeel het. Hulle is bederf met geskenkpakkies, blomme, sertifikate en ballonne met die nommer 50. Die spelers is Esti Huggett (kaptein), Nika Potgieter (onder-kaptein) en Caitlin Hendriks.
Dit was ook die naweek weer reünietyd gewees, met 1990 en 2005 se matrieks wat bymekaargekom het om dit te vier.
Die wenners van die naweek se onderskeie kragmetings was:
Gholf: Punt
Muurbal: Gim
Debat: Punt (juniors). Gim (Seniors)
Skaak: Punt
Vasvrae: Gim
Hokkie dogters: o.14A: 0-8 Punt, o.16A: 1-5 Punt, o.19A: 2-1 Gim.
Hokkie seuns: o.14A: 3-0 Gim, o.16A: 2-1 Gim, o.19A: 2-0 Gim.
Netbal: o.14A: 7-27 Punt, o.15A: 21-20 Gim, o.16A: 20-20, o.17A: 27-14 Gim, o19A: 28-33 Punt.
Rugby: o14A: 5-5, o.15A: 32-8 Gim, o.16A: 34-29 Gim, o.19A: 10-34 Punt. (ANGELIQUE ERASMUS)



