Chiney tops in Zwartberg

Chiney Hendricks is Zwartberg se 2017-topmatriek.  Foto: Marlene Malan

Chiney Hendricks is Zwartberg se 2017-topmatriek. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
DRIE meisies is vanjaar die toppresteerders van die 2017-matriek­klas van die Hoërskool Zwartberg op Prins Albert. Chiney

Hendricks, Shurwynne Roberts en Chandre Philander het stof in die oë geskop van hul 36 klasmaats.

Die slaagsyfer vanjaar was 89,7%, wat 20,5% hoër is as die slaagsyfer van die 2016-matrieks. Altesame 39 leerders het die eksamen afgelê, van wie 35 geslaag het. 71,8% leerders kan verder vir grade en diplomas gaan studeer.

Die skoolhoof, Ricky McKnight, sê hoewel hy verheug is oor die drastiese verbetering op 2016, “sal ons skool eers werklik tevrede wees met ’n slaagsyfer van 100%. Ons werk hard hieraan, en ek het groot hoop vir die 2018-matrieks. Ons skool is geseënd, maar ons kán verbeter. Ons is nog nie waar ons moet en kan wees nie. ’n Perfekte slaagsyfer is heeltemal haalbaar.”
Die matriekslaagsyfer in 2014 was 85,8%, in 2015 98,3% en in 2016 69,2%. Zwartberg het vanjaar 52 Graad 12-leerders.