Liza ryg weer die A’s in

Lisa Victor. Foto verskaf

Lisa Victor. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
NADAT sy by die Hoër­skool Oudtshoorn se prysuitdeling verlede jaar aangewys is as die matriekleerder wat die beste deur haar hoër­skoolloopbaan presteer het, het Lisa Victor nie teleurgestel nie en ses vakonderskeidings en ’n gemiddelde persentasie van 85,1% in die matriekeindeksamen be­haal.

Sy spog met A-gemiddeldes in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, rekenaartoepassings­tegnologie, lewenswetenskappe, Duits en lewens­oriëntering.

Lisa het reeds na die Universiteit van Noordwes (Pot­chef­stroom-kampus) vertrek waar sy vanjaar in die regte gaan studeer.
Dié veelsydige Lisa wat baie lief is vir sing en om kreatief te wees, was in haar matriekjaar lid van die matriekraad, redakteur van die skool­koerant en tesourier van die VCSV.

Sy is die dogter van Heinrich en Lianda Victor wat pas van Oudts­hoorn na Port Elizabeth verhuis het nadat Heinrich ’n pos as operasionele bestuurder vesel by die OVK aanvaar het. Lianda was tot einde 2017 ’n onderwyser by die Hoërskool Oudtshoorn.