

Belangstelling in die maandelikse netwerkaand van die Oudtshoorn Besigheidskamer verlede Donderdag, was so groot dat addissionele plekke beskikbaargestel moes word.
Die netwerkaand wat by Baron’s Palace Hotel plaasgevind het, is deur Die Hoorn geborg en 100 plekke was beskikbaar. Die kaartjies was egter vining uitverkoop en nog twee tafels met plek vir 20 mense is voorsien.
Die bekende musikant van Oudtshoorn, Byron Minnie en die kitaarspeler, Christopher Noble, het vir musiek gesorg.
Die smaakmaker, Lekker Nikki, het die gelukstrekkings uitgedeel wat deur Oudtshoorn se burgemeester, Johan Allers, getrek is. Pryse ter waarde van meer as R20 000 is uitgedeel.
Gaste het aan drie soorte sop en ’n verskeidenheid brode gesmul. Die Hoorn se opregte dank aan almal wat die aand bygewoon het, en veral aan die borge wat hiernaas verskyn.
Die Oudtshoorn Besigheidskamer word beskou as een van die mees aktiewe besigheidskamers in die streek.
Vir inligting of om as lid aan te sluit, kontak Helen Butler by 084 443 6320. (HANNES VISSER)