Weke se fyn werk om klere-uitstalling by museum uit te brei

René Berry voor die uitstalling van kle-dingstukke van meer as ’n eeu gelede. Onder: Die CP Nel-museum is een van Oudtshoorn se mooiste sandsteengeboue. Heel onder: ’n Gedeelte van die uitstalling voor en na Berry se ingryping. Foto’s verskaf

Met die aanloop tot die heropening van die CP Nel-museum net voor die KKNK, het verskeie mense ingespring om die uitstallings gereed te kry. Terwyl daar skoongemaak, opgeruim en rondgeskuif was, het René Berry die uitstalling van kledingstukke onder hande geneem en ʼn splinternuwe uitstalling laat pryk.

Berry is ’n professionele restoureerder van veral papier en boeke en bedryf Phoenix Restoration uit haar alteljee by haar huis in Oudtshoorn.

Alhoewel sy in die restourasie van papier en boeke spesialiseer, restoueer sy ook kunswerke en materiaal soos in die geval van die kledingstukke by die museum. Sy vertel dat sy tans ook besig is om haarself te bekwaam om porselein te restoureer. Die Hoorn het hierdie week met Berry gesels toe sy die museum se argiewe besoek het vir navorsing oor restourasiewerk wat sy vir ʼn kliënt moet doen.

Sy het ʼn stuk kant-onderklere in die uitstalling gewys wat uit die vroeë 1800s dateer en heeltemal met die hand gemaak is. Sy sê die kledingstuk was op verskeie plekke stukkend en sy het oor ʼn aantal dae die herstelwerk gedoen. Volgens Berry dateer die meeste kledingstukke uit die 1800’s tot die 1920’s.

Die oudste een is ’n blou gekwilte romp van ongeveer 1770. Die nuutste kledingstuk is ’n spoggerige trourok met wit volstruisvere en volstruisleer wat in 1970 gemaak is. Die kledingstukke wat tans op uitstalling in die museum is sluit klere vir volwassenes sowel as vir kinders in en gee besoekers ʼn blik op wat mense in Oudtshoorn meer as ʼn eeu gelede gedra het.

Berry sê die meeste van die kledingstukke wat tans op uitstalling is, was iewers in die museum gestoor. Sy en twee of drie helpers het weke geneem om die kledingstukke uit te pak, te herstel en uit te stal.

Die huidige uitstalling is werklik iets om te aanskou en verskil heeltemal van die vorige een wat stof vergaar het. Haar werk het egter nie opgehou met die opgradering van die uitstalling nie aangesien sy steeds besig is om kledingstukke te herstel en by te voeg. Die romp uit 1770 is byvoorbeeld twee weke gelede bygevoeg. Oor die waarde van die uitstalling aan besoekers, het Berry gesê:

“The costume display gives museum goers a glimpse into what life was like in Oudtshoorn’s past. How the ostrich industry brought prosperity to the town is reflected in the wide range of clothing items the museum is fortunate enough to have in its collection.”

Inwoners word genooi om die CP Nel-museum veral nou te besoek aangesien buitelandse toeriste in die wintermaande minder is. Die museum is van Maandag tot Vrydag tussen 09:00 en 15:00 oop. Toegang beloop slegs R50 per persoon en R30 vir skoliere en pensioenarisse.

Met hierdie week se besoek deur Die Hoorn is dit weer bevestig dat die museum ’n reusebate vir die dorp is en werklik ʼn besoek werd is.

Inwoners het die afgelope jaar vrywilliglik hard gewerk en baklei om die museum weer tot sy vorige glorie te herstel na bykans vier jaar se uiters swak bestuur.

Vir enige navrae, of om by Die Vriende van die museum aan te sluit kontak Carol Jeal (083 268 6708) of Herman Labuschagne (082 800 8621). (HANNES VISSER)